Só klop jy die All Blacks

Die skrumskakel Conor Murray druk die Leeus se tweede drie. (Foto: Twitter via @lionsofficial)

Wanneer dit reën, moet jy skep.

Vooraf is daar baie bespiegel dat die All Blacks die tweede toets teen die Britse en Ierse Leeus in Wellington sou wen om die toetsreeks met 2-0 te beklink, maar rugby word nie net op papier gewen nie.

Die Leeus het die All Blacks met 24-21 geklop om die reeks met een-elk gelykop te maak en lewendig te hou. Die derde en beslissende toets wag aanstaande week in Auckland en ewe skielik is die toer nie meer ‘n mislukking nie en kan die Leeus nog teen alle verwagting in die reeks beklink.

Twee drieë teenoor nul op ʼn papnat en glibberige speeloppervlak vertel die verhaal. Dit was die eerste keer dat die All Blacks sedert 2014 – toe teen die Wallabies – nie ʼn drie in ʼn toets kon druk nie.

Hoekom? Want hulle moes vir 55 minute sonder die senter Sonny Bill Williams klaarkom nadat hy die Leeus-vleuel Anthony Watson met die skouer teen die kop geloop het en sonder om sy arms te gebruik.

Dit was Williams  se eie skuld, hy het die reëls oortree, finish en klaar. Dit was ook net die eerste keer sedert 1967, toe die legendariese Colin Meads die trekpas gekry het, dat ʼn Kiwi afgestuur is.

En toe maak die All Black-afrigter, Steve Hansen ʼn baie vreemde keuse om die ysterflank Jerome Kaino af te haal en die senter Anton Lienert-Brown as flank  in die skrum te gebruik wanneer die All Blacks die bal ingegooi het.

Die groentjie-senter, Ngani Laumape, is in Williams se plek opgestuur, maar die dinamika het ontbreek.

Dit wys jou net, al is jy die beste span ter wêreld, is dit menslik om foute te begaan, veral wanneer jy onder druk is.

Sonder Kaino kon die All Blacks se pak ook nooit oorheers nie. Hulle het baie min gerolmaal en Kaino se verdediging en werkverrigting is erg gemis.

Boonop het die losskakel, Beauden Barrett, met drie maklike strafskoppe misluk en kon die vleuel Waisake Naholo nie ʼn harsingskudding-toets slaag nie.

Is dit regverdige verskonings? Ja en nee.

Die All Blacks het dalk verdien om gelykop te speel, maar nie om te wen nie. Jy moet tog immers drieë druk, jou dissipline moet vlekkeloos wees, jy moet meer punte as jou teenstander aanteken.

En die Leeus? Die insluiting van die slot Maro Itoje en die toerkaptein, Sam Warburton, het die vonk aangesteek, net soos die afrigter, Warren Gatland, gevra het.

Itoje het wel op die onkantlyn geboer, maar hy was die hele tyd in die All Blacks se gesigte en het die agterspelers met sy opskietverdediging onder druk geplaas.  En dis hoekom hy gekies is.

Die keuse van die losskakel Johnny Sexton en Owen Farrell op binnesenter was ook in die kol.  Saam met die skrumskakel, Conor Murray, het hul taktiese skopwerk die All Blacks onder druk geplaas.

Kan dit weer gebeur?

Hulle sê mos moet nooit die vel verkoop voordat die beer geskiet is nie, veral nie as dit reën nie.

Puntemakers –

Britse en Ierse Leeus: (9) 24: Drieë: Taulupe Faletau, Conor Murray. Doelskop: Owen Farrell. Strafdoele: Farrell 4
All Blacks (9) 21: Strafdoele: Beauden Barrett 7

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

zahn ·

Dis die eerste keer wat ek die ou SA “flaw” in NZ se rugby sien. Die goeie, bekende ou eie ek sindroom. Dis wat hul resep is wat hulle so goed maak, die manne speel vir mekaar, as ‘n span en eenheid. Nou kom die perd met die een bont arm (ek sien hier by ons hardloop ook so ‘n nr 9 rond) en verbeel hom alles gaan oor hom. Siedaar, die kohesie is in sy peetjie, en dis hoe hulle geklop word. Was maar net ‘n kwessie van tyd. Grootkop gekry, belangriker as die spel, suinig en astrant.

Frans C ·

En daar klop die room van 4-nasies die ALL Blacks met ‘n skrale 3punte en skielik is almal in vervoering want siedaar 15 man kry dit op die ou einde reg om 14 te klop.

Dink net daaraan as die voorste 4 Suidelike halfrond nasies so’n span op die been moet bring ,hulle eers ‘n paar wedstryde plaaslik laat speel en dan laat toer in die Noordelike halfrond.

Sal ‘n mens dan opgewonde raak as so’n span die ses-nasiekampioen met drie punte wen.Ek glo nie.

Nico K ·

Dit is ironies dat die All Blacks wat tog gewoond is aan nat weer glad nie hul hardloop rugby kon speel in die reen nie. En al wat hul toe doen is hoog skop.
En ek stem saam met Zahn, daardie skrumskakel wat so haantjie is en heeltyd vir die skeidsregter wil vertel wat om te doen in plaas van rugby te speel irriteer my verskriklik.

Josua Keys ·

Menere jammer om te sê maar ons sou die All Blacks laasjaar al geklop het as die Springbok afrigters en die keurders nie name gekies het om te speel nie maar spelers wat in vorm was. Sodra Saru besef dat Springbok Rugby nie vir agter geblewendes is nie en ook om rugby spelers ‘n kans te gee om te kyk hoe hulle vaar nie maar wel daar is vir die beste spelers van Suid Afrika en dit geld vir die afrigters en afrigting ook sal ons weer ‘n erkende rugby krag word. Die All Blacks is goed omdat daar nie vir hulle voorgeskryf word wie in die span opgeneem moet word en wie nie die bestes word gekies en daar is geen politieke inmenging nie. Bafana Bafana is n grap vir Suid Afrika, hoekom ????? Politiek!!!! Emirate lugdiens gaan nie n ligte vliegtuig vliënier gebruik om ‘n Airbus A380 te vlieg nie maar eerder n vliënier wat genoeg ure en ondervinding het in ‘n Boeing 747 of iets soortgelyk. ‘Sodra ons die regte mense in die regering kan instem wat die ekonomie en werkskepping sal verbeter en stabiliseer vir almal se gewin sal minder spelers oorsee gaan en hier bly, geld waarde sal verbeter, stadions sal voller word en SA sal weer blom in ons teenwoordigheid. Privatiseer Rugby en help so om politiek uit rugby te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.