Só lyk die Sharks as hulle die dag vlamvat

Die klimtol-Sharks, dán goed en dán weer middelmatig, het Saterdag op Kingspark moontlik hulle beste vertoning van die seisoen gelewer.

Hulle het die Highlanders hulle eerste neerlaag in hul laaste ses toerwedstryde in Suid-Afrika toegedien. Die eindtelling was 38-12 en is met vyf drieë teenoor twee behaal, en dit was ʼn loesing in die ware sin van die woord.

Die Sharks het die eerste keer die seisoen werklik volgens hulle potensiaal vertoon en met die bonuspuntsege ook opgeskiet na die agste plek op die gesamentlike Superreeks se punteleer – bó die Bulls en die Stormers.

Benewens die oorwinning het die Sharks met hierdie uitstekende spanpoging gehelp om regmerkies van Rassie Erasmus agter die name van die sterk senter André Esterhuizen, die drie Du Preez-broers Robert, Dan en Jean-Luc, die vleuels S’bu Nkosi en Makazole Mapimpi en die stutte Beast Mtawarira en Thomas du Toit te plaas.

Met die besering wat Malcolm Marx moontlik uit die toetse kan hou, het Akker van der Merwe ook met ʼn lewendige vertoning en goeie skrumwerk hand opgesteek.

Vir die eerste keer die seisoen was daar strykdeur aansluiting tussen die voor- en agterspelers en kon vyftienmanrugby in die ware sin gespeel word.

Daarmee word nie ʼn dolle rondgooiery van die bal bedoel nie. Daar is gedryf en gemaal totdat die gate begin kom het, en dan is dit klinies uitgebuit om te gaan druk.

Daar is ook verál geskrum, met Du Toit wat goed na die vaskopkant versool is, en Mtawarira wat vanjaar, en veral Saterdag, wéér gewys het dat sy 32 jaar nog lank nie te oud vir groot rugby is nie.

Hulle het met Van der Merwe tussen hulle die grondslag vir ʼn skrumslagting gelê.

Soos ʼn mens van ʼn aandwedstryd op Kingspark kan verwag, was daar miskien meer hanteerfoute as jy graag sou wou sien weens die dou op die veld.

Dit doen egter geen afbreuk aan ʼn sege oor ʼn span wat verlede week, ondanks hulle gesukkel op Loftus, diep genoeg gedelf het om die Bulls op hulle tuisveld te klop nie.

Puntemakers –

Sharks (17) 38: Drieë: Akker van der Merwe, Makazole Mapimpi, Daniel du Preez, S’bu Nkosi, Robert du Preez. Doelskoppe: Du Preez (5). Strafdoel: Du Preez.
Highlanders (7) 12: Drieë: Dillon Hunt, Teihorangi Walden. Doelskop: Lima Sopoaga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henk Stander ·

Was so lekker om die beste drie so ver die seisoen te sien… toe, so wrintie-waar druk hulle n beter een!

Lieflike rugby, dankie Sharks.

Bulle groete.

Frans C ·

Die Hi-landers is op Loftus gegaffel en het gewond met ‘n gelukkige wen weggekom.In Durban is hul verslind. Indien die Sharks kan voortbou op die vertoning kan hul nog die uitspeelrondte haal.

nico k ·

Interessant dat die Haaie besluit het om weg te doen met die voorspeler rugby wat hul sover die seisoen gedoen het en baie meer hardloop rugby te gebruik. En hulle het ‘n goeie agterlyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.