Só lyk res van pad na Wêreldbeker 2019 nou

Met die Wêreldbeker 2019 se Europese aanspraakdebakel ná twee en ʼn halwe maande uiteindelik uit die weg geruim, kan ʼn duidelike prentjie van die oorblywende aansprake gevorm word.

Nadat ʼn onafhanklike paneel Roemenië en Spanje se appèlle Dinsdag verwerp het, is die Europese roete opgeklaar.

Albei se aanspraak is kortgeknip nadat hulle aan die gebruik van ontoelaatbare spelers skuldig bevind is.

Rusland sal nou gewis as Europese verteenwoordiger saam met Ierland, Skotland, Japan en die sogenaamde uitspeelwenner in Groep A speel.

Om laasgenoemde te bepaal, sal Duitsland (Europa) eers teen Portugal (Europa) kragte meet. Die wenner sal dan teen Samoa (Oseanië) te staan kom om te bepaal wie die laaste vakature in Groep A vul.

Die laaste gewestelike aanspraakstryd, dié in Afrika, duur van 16 Junie tot 7 Julie. Die wenner sal saam met Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Italië en die wenner van die heruitdun in Groep B speel.

Kenia, Marokko, Namibië, Tunisië, Uganda en Zimbabwe neem aan dié reeks deel, wat ook die houer van Rugby Afrika se Goue Beker sal bepaal.

Die span wat tweede kom, sal aan die vierhoekige heruitdun in Frankryk deelneem.

Kanada (Amerikas) het reeds sy plek in die heruitdun bespreek.

Hongkong, wat pas die Asiatiese aanspraakstryd gewen het, sal tuis en weg teen die Cook-eilande (Oseanië) om ʼn plek in die heruitduin speel.

Die vierde plek gaan aan die verloorder in die Europa-Oseanië-uitspeelstryd.

Dit kom daarop neer dat slegs 12 van die sowat 90 lande, wat in die aanspraakstryd oor drie en ʼn halwe jaar betrokke was, nog in die wedloop is.

Groep C vir die toernooi in Japan bestaan uit Engeland, Frankryk, Argentinië, Amerika en Tonga.

Groep D is saamgestel uit Australië, Wallis, Georgie, Fidji en Uruguay.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.