Só sal die Suid-Afrikaanse rugbybase hul vingers verbrand

Dit kan mos nie waar wees nie.

Dit is al afleiding wat ʼn mens kan maak nadat daar volgehoue bespiegelinge in die Walliese media is (waaroor Pale Toe! op 26 Desember berig het) dat Wallis op 2 Junie ʼn toets teen die Springbokke in Washington in Amerika sal speel en op die punt is om die toets te bevestig.

Jinne, mense, dit is ʼn week voor die eerste van drie toetse teen Engeland op 9 Junie op Ellispark.

Ja, Engeland, wat tweede op die wêreldranglys is, wat altyd ʼn appeltjie met die Bokke te skil het en reeds begin voorberei het vir aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan.

Daar is boonop ʼn tydsverskil van tien uur tussen Seattle (Washington) en Johannesburg – en dink net daaraan, die Bokke het tydens die onlangse Europese toer in ekonomiese klas gevlieg.

Watter baat, behalwe dalk finansieel, kan die Springbokke daarby vind as só ʼn toets gereël word?

Maar enigiets is seker moontlik, veral nadat die Bokke verlede jaar in rooi Springboktruie in ʼn wegtoets gespeel het. Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se geldkoffers loop net soos die Kaapse damme leeg en die unie het Steinhoff as ʼn borg verloor (Blitsbokke).

Dit laat ʼn mens dink hoekom die toets teen Wallis aan die einde van verlede jaar se Europese toer buite die toetsvenster gespeel is. Is daar toe ooreengekom op nog ʼn toets?

Die Sharks speel boonop op 24 Mei in die Superrugby-reeks in Buenos Aires teen die Jaguares, die Bulls pak die Brumbies op Saterdag 25 Mei of Loftus Versfeld en op dieselfde middag speel die Stormers op Nuweland teen die Lions.

As die toets ʼn werklikheid word, wanneer gaan die Springbokke saamtrek en oefen?

♦  Wallis speel later in Junie in twee toetse teen die Argentynse Poemas, en volgens Wales on Line is ʼn moontlike Springboktoets in Amerika die ideale geleentheid vir die Walliesers om voor te berei, om by die toestande aan te pas en om aan die nuwe spelers die geleentheid te gee om in te skakel.

Dalk is die Walliese berigte sedert middel Desember ver van die kol af, maar waar daar ʼn rokie trek, is daar ʼn vuurtjie.

Daar was reeds vandeesweek bespiegelinge (Pale Toe! het daaroor berig) dat Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugby se direkteur van rugby en gewese afrigter van Munster, ʼn wedstryd tussen die Springbokke en dié Ierse klubspan probeer reël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Barries ·

SA Rugby gaan al hoe meer oor foefies en al hoe minder oor die dinge wat saak maak, soos om kwaliteit spelers te behou, wereldklas afrigters te lok ens.

Fafa ·

As die bokke daar wil speel laat hulle…maar kies n verteenwoordigend span amper soos n SA barbarians of n SA universiteit span want dit is blootstelling vir die sport in nog n land en streek…

Niklaas ·

Dit maak nie mooi sin nie. Dit beteken dan baie lugreistye wat die spelers vlugflou kan laat en dis ook gans te naby aan die wedstryd teen die Rose. ‘n Aantal top rugby besluitnemers van die SA span is dalks net agter geld aan. Dis nie n baie slim gedagte nie !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.