Só skitter SA spelers in voorste Europese reeks

Francois Louw – bobaas met omkeerbesit. (Foto: Twitter @flolouw)

Verskeie spelers uit Suid-Afrika tel onder die uitblinkers in die reeks om die Europese Kampioenebeker wat deur die voorste klubs in dié geweste uitgespook word.

Die Springbok Ruan Pienaar (Montpellier, Frankryk) is met 43 punte vyfde op die lys van puntemakers, en die gewese Lions-speler Jaco van der Walt (Edinburgh, Skotland) is sesde met 38.

Die Bok Francois Louw (Bath, Engeland) is een van drie spelers wat die meeste kere (nege) omkeerbesit vir hul onderskeie spanne kon bewerkstellig. Nóg ʼn Boklosvoorspeler, Marcell Coetzee (Ulster, Ierland), is een van ses spelers wat dit vyf keer – die vierde meeste – kon regkry, en die gewese Stormers-speler Deon Fourie (Lyon, Frankryk) is een van nege wat dit vier keer – die vyfde meeste – vermag het.

ʼn Vierde Bok, Cheslin Kolbe (Toulouse, Frankryk), het reeds 26 verdedigers geklop, die tweede meeste in die reeks. Hy is ook een van vier spelers wat agt skoon breekslae uitgevoer het, eweneens die tweede meeste. Die Bolands gebore Kanadese toetsspeler DTH van der Merwe (Glasgow Warriors, Skotland) is een van nege spelers wat sewe keer daarin geslaag het.

CJ Stander (Munster, Ierland) is met 61 keer die derde beste baldraer in die reeks, gevolg deur Antonie Claassen (Racing 92, Frankryk) met 60. Stander het vir die Bulls en Claassen vir die Blou Bulle gespeel, met eersgenoemde wat vir Ierland en die Leeus toetsrugby speel, en laasgenoemde wat Frankryk verteenwoordig het.

Marcell Coetzee is een van twee verdedigers wat die vierde meeste duikslae, 63, uitgevoer het. Die oud-Stormers-speler Rynardt Elstadt (Toulon, Frankryk) het met 62 net een teenstander minder gelak.

Twee slotte uit Suid-Afrika, Nico Janse van Rensburg (Montpellier, Frankryk) en David Bulbring (Scarlets, Wallis), het elkeen 16 skoon lynstane gewen om die vyfde plek met ʼn derde speler te deel. Van Rensburg het vir die Bulls en Bulbring vir die Lions Superrugby gespeel.

Nóg ʼn Bok, Willie le Roux (Wasps, Engeland), is een van vyf spelers wat ses keer – die vyfde meeste – van die bal in ʼn duikslag ontslae kon raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.