Só werk die nuwe, meer regverdige Superreeks

Dit is die eerste naweek waar al die spanne van al die lande in die nuwe Superreeks afskop, behalwe die Sharks wat ʼn vroeë loslootjie het.

Die Bulls voltooi die vier Suid-Afrikaanse spanne se deelname aan die nuwe 2018-Superreeks Saterdag wanneer hulle op Loftus teen die Hurricanes speel – en al vier hierdie spanne sal deur die loop van die seisoen uitvind dit is ʼn heel ander kompetisie as verlede jaar se deurmekaarspul.

Die afgelope twee jaar het daar, weens die lompe indeling van die 18 spanne in vier groepe, massiewe skeeftrekkings gekom. Só het elk van die (toe nog ses) SA spanne in elke seisoen net teen spanne van een van die twee Australasiese lande gespeel, met dié wat teen die swakker Aussie-spanne uitgedraf het wat geweldig bevoordeel is.

Vanjaar speel al vier die Suid-Afrikaanse spanne, die Lions, Stormers, Sharks en die Bulls, teen vier spanne elk van Australië en vier van Nieu-Seeland.

Elke Suid-Afrikaanse span het dus een span van hierdie twee lande se deelnemende spanne teen wie hulle nié te staan kom nie.

Dít is moontlik die belangrikste skeeftrekkery  van die hele paar in die reeks, iets wat haas onvermydelik is in kompetisies en reekse van hierdie aard.  ʼn Span is dus veel gelukkiger as die wedstryd wat hy nié hoef te speel nie, teen een van die ander sterkeres is. Dit beteken in die Australiese groep jy het dan een van die swakker spanne as teenstander.

Speel jy egter teen die vier sterkes, kry jy die swakker span teen wie jy uitsit … Dus, ʼn maklike keuse!

ʼn Ander probleem is natuurlik dat, hoewel al die spanne agt wedstryde tuis en agt weg speel, die relatiewe teenstand van die tuis- en weg-teenstanders ʼn rol mag speel.

Wil die Lions, byvoorbeeld, eerder teen die swak spanne weg en teen een van die sterkeres  tuis speel? Natuurlik!

Die “lang” toere is terug.

Die “lang” toere is terug. Ook hier is daar voor- en nadele vir al die spanne.

♦  Die Stormers is reeds Sondag landuit vir drie wedstryde in Australasië en keer eers op 11 Maart terug – net meer as drie weke later.

Twee wedstryde is in Nieu-Seeland en net een in Australië. Hulle speel later ook weg teen die Sunwolves wat by Australië se groep ingedeel is, dus hulle tweede “Australiese” groep-wegwedstryd.

♦  Die Bulls is ook ʼn raps meer as drie weke weg Australasië toe waar hulle teen twee Nieu-Seelandse spanne en een van Australië te staan kom.

Die Pretoriase span speel ook later ook teen die Sunwolves hul tweede “Australiese” wegwedstryd en ook teen die Jaguares (in die Suid-Afrikaanse groep). Dit is egter nie op opeenvolgende naweke nie.

♦  Die Lions speel vier naweke na mekaar in Australië teen die Waratahs en die Reds en dan twee wedstryde in Nieu-Seeland (teen die Hurricanes en die Highlanders).

Die volgende twee naweke, sonder ruskans, wag die Brumbies en die Stormers vir hulle op Ellispark. Hulle speel dus nie teen die Sunwolves nie.

Die Lions het boonop ook teen die Jaguares (Suid-Afrikaanse groep) ʼn wegwedstryd, maar hoef nie Ooste toe te vlieg om teen die Sunwolves te speel nie.

♦  Ook die Sharks speel twee keer in Australië en dan twee keer in Nieu-Seeland met die Jaguares wat ook in Argentinië aangedurf moet word.

Kompetisiestruktuur:

Daar is 15 spanne in die 2018-Superreeks wat in  drie groepe, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, ingedeel is.

Elke groep speel onder mekaar tuis en weg (dus agt wedstryde) en ook teen vier spanne van elk van die ander twee groepe, waarvan vier wedstryde tuis sal wees en vier weg. Dus nog agt wedstryde vir ʼn totaal van 16 wedstryde.

Groepindeling:

Australiese groep: Brumbies, Rebels, Reds, Waratahs, Sunwolves
Nieu-Seelandse groep: Blues, Chiefs, Crusaders, Highlanders, Hurricanes
Suid-Afrikaanse groep: Bulls, Lions, Sharks, Stormers, Jaguares

Wedstryde en uitspeelkwalifikasie:

Twee van die 120 wedstryde in die reeks, waar elke span agt keer tuis en agt wedstryde weg sal speel, is reeds Saterdag gespeel op Ellispark en Nuweland gespeel.

Daar is ook nog sewe halfeindwedstryde waaraan agt spanne sal deelneem.

Die uitspeelspanne:

Kwarteind-tuisspanne: die drie groepwenners plus die span wat die meeste ligapunte het ongeag van in welke groep hy gespeel het). Die drie groepwenners sal volgens hulle ligapunte van 1-3 gegradeer word, met die ander span as nommer 4.

Die ander vier kwarteindspanne: die volgende vier spanne wat die meeste ligapunte verdien het, ongeag vanuit watter groep hulle kom. Hulle sal van 5-8 gegradeer word.

Die loting vir die kwarteindwedstryde:

Kwarteind1: 1 vs 8
Kwarteind 2: 4 v 5
Kwarteind 3: 2 v 7
Kwarteind 4: 3 v 6

Ligapunte word soos volg toegeken:

4 punte vir ʼn wen
2 punte vir ʼn gelykopuitslag
Bonuspunte: 1 punt vir ʼn neerlaag tussen 1 en 7 punte; 1 punt vir ʼn span wat drie of meer drieë as hulle teenstander aanteken.

Die volledige bepalingslys:

Klik hier

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.