Kopspeletjies … Jare lank is dit, soos hulle in die koerante sê, een van die skerpste pyle in enige afrigter of speler se koker voor `n belangrike wedstryd of geveg.
Die Engelse afrigter, Eddie Jones, is `n meester daarvan. Hy het in die reeks in Junie teen die Wallabies só met Michael Cheika se kop gesmokkel dat die Australiërs later sy praatjies geglo het. Voor vanjaar se Sesnasiesreeks het Jones die Iere kwaad gemaak, en toe vir Wallis.
Ek lees nou dat die Argentynse Poemas heuning om die Bokke se monde smeer voordat hulle Saterdag in die Mbombelastadion (Nelspruit) in die eerste Rugbykampioenskapstoets teen die Bokke speel. Die flank Pablo Matera bestempel die Bokke as die mees fisieke span teen wie hy nog gespeel het, die voorspelers is ongelooflik, die Bokke skrum baie goed en die agttal is een van die beste ter wêreld.
Dit laat `n mens dink hoe goed die Poemas moes gewees toe hulle die Bokke verlede jaar op Kingspark in Durban geklop het.
Jare gelede, toe die oorgewig Amerikaanse swaargewigbokser John Tate op Loftus Versfeld in `n wêreldtitelgeveg teen Gerrie Coetzee baklei het, het die Amerikaanse afrigter Ace Miller vir Tate laat glo dat hy “Superman” was. Miller het Tate in `n robot verander, hy het hom T-hemde met Superman daarop laat dra en Tate het alles slaafs nagevolg.
Toe Harry Viljoen die Westelike Provinsie in 1997 tot `n oorwinning in die Curriebeker-eindstryd teen die Cheetahs afgerig het, het hy die liedjie “I believe I can fly” gebruik om die spelers in hulself te laat glo. Toe die spanbus reeds by Nuweland opgedaag het, het Viljoen die liedjie `n laaste keer laat speel …
Afrigters en kopdokters gebruik flieks, video’s, aanhalings, voorbeelde uit die verlede en allerlei ander dinge om spanne te motiveer, op te sweep, aan te spoor.
Soms slaag dit, soms nie.
Nou wonder ek net wie met heineke meyer se kop gesmokkel het toe hy die Springbokke afgerig het?
Niemand nie…al daai prestasies op sy eie reggekry