Soet en suur van Springbok Brent Russell

Brent Russell. Foto: Youtube.

ʼn Mens wonder steeds in hoeveel toetse Brent Russell sou gespeel het as hy nie die blote klimtol van die Springbokspan tussen 2002 en 2006 was nie.

Rassie Erasmus sou hom beslis gekies het, want hy het presies dieselfde vaardighede gehad as Cheslin Kolbe: blitsvinnig, ʼn verbysterende systap, visie en die hart van ʼn leeu.

Hy sou ook in die All Black-span gewees het, want hy was enige dag netso goed soos Damian McKenzie.

Die Wallabies sou agteroor gebuig het, want hy sou Matt Giteau na ʼn kleuterskoolkind laat lyk het.

Was hy beter as Willie le Roux: ja.

Was hy beter as Sbu Nkosi of Makazole Mapimpi: ja.

Maar Russell het in net 23 toetse gespeel, in 16 daarvan boonop as plaasvervanger. Hy het die onderskeiding gehad dat hy heelagter, vleuel, senter, losskakel en skrumskakel in toetse gespeel het en dit was juis sy ondergang: sy ongekende veelsydigheid.

Afgesien van Ruan Pienaar, een van die ander weeskinders van Springbokrugby, weet ek nie van enige ander speler wat met dié prestasie kan spog nie.

Frans Steyn het in vier posisies gespeel en so ook Dok Danie Craven, maar vyf?

Russell, wat destyds vir die Springbok-sewesspan gespeel het, het in 2002 op Loftus Versfeld sy groot kans gekry toe die gewese Springbokafrigter Rudolph Straeuli op ʼn proefwedstryd voor die twee toetse teen Wallis besluit het.

Dit was tipiese proewe, spelers wat te veel probeer doen het om te probeer oortuig en ander wat so min moontlik wou doen om nie hul beeld skade aan te doen nie.

Maar sowat sewe minute voor die einde is Russell en Jean de Villiers opgestuur en die vonk was aangesteek.

Binne ʼn oogwink het hulle die gang van die spel verander.

Russell is as plaasvervanger vir die eerste toets teen Wallis gekies en De Villiers was in die Boktoerspan aan die einde van die jaar.

Maar waar De Villiers voortgegaan het deur in 109 toetse te speel, het Russell se internasionale loopbaan in 2006 in ʼn doodloopstraat beland.

Die Pocket Rocket, soos hy alombekend gestaan het, kon soveel meer waarde toegevoeg het as sy afrigters  sy veelsydigheid beter aangewend het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karlahari ·

Laat my dink aan Heinrich Brussow.
Volgens sommige onsuksesvolle Springbok afrigters was hy te klein vir die span….
Bal en gaping steler par excellance…

Die Wolf ·

Kan tot vandag nie die kloutjie by die oor bring waarom hy so stief behandel was nie. Met sy vaardighede sou hy beslis n moet gewees het. Ek is nie so seker dat dit sy ondergang was nie. Het uitstekend in Engeland gevaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.