ʼn Georgiese Vyftiental het Saterdag sy Argentynse eweknie net-net geklop in die nuwe toernooi om die Somerbeker in Tbilisi, Georgië.
Die besoekers het in die tweede helfte heeltemal in duie gestort en die tuisspan het alle fasette oorheers om met 23-22 te wen, nadat die Argentynse Vyftiental rustyd met 22-7 voor was.
Die toernooi is deur die Georgiese Rugbyunie (GRU) geskep om sy spelerspoel met die oog op aanstaande jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan te verdiep. Dit dien dieselfde doel vir die Argentyne.
In die ander wedstryd Saterdag het die Franse klub Racing 92 vir Brasilië met 45-7 oorskadu (rustyd 26-7).
Racing – met tien toetsspelers uit Nieu-Seeland, Ierland, Frankryk, Skotland, Argentinië, Fidji, Samoa en Georgië – het eenvoudig in alle opsigte die botoon gevoer.
Die toernooi bied hom goeie voorbereiding met die oog op die komende Franse en Europese reekse, en Brasilië kry ʼn welkome speelkans nadat hy nie in die afgelope Junie-toetse in aksie was nie.
Dit loop Vrydag ten einde.