Somerrugby in die Boland

ʼn Lekker warm 31 °C word vir Wellington voorspel, waar die halfeindronde van die Bolandse ligas Saterdag afgehandel word.

Die verdedigende kampioen, Roses United, speel in die hoofwedstryd (16:30) in die Bolandstadion in die een Grootuitdaag-halfeindstryd teen Saldanha, en Wesbank en Worcester Villagers (twee vorige kampioene) durf mekaar in die ander een (14:40) aan.

In die halfeindronde van die Streekuitdaagreeks speel Saron teen Worcester Perseverance (11:00), en Majestics teen Touwpark (12:50).

Die halfeinders in die reeks om die Gemeenskapskild en die Eerste Liga sal op die B-veld in aksie wees.

Wat eersgenoemde betref, meet Evergreen Nuy teen Red Stars (13:40) en Klipdrift teen Die Dorings (15:30) kragte.

Helderstroom vat Stryders van Barrydale voor die bors (10:00), en Young Warriors betree die strydperk teen Young Good Hope van Ceres (11:50) in die Eerste Liga.

Kaartjies vir volwassenes kos R30 en vir kinders R10 stuk by die hek. By Webtickets en Pick n Pay betaal volwassenes R5 minder.

Die hekke word 09:00 oopgemaak.

♦ Intussen het Gansbaai se Adelaide-visserye die jaarlikse toernooi van die visnywerheid op Velddrif gewen, deur Sea Pride met 36-7 te verniel.

Saldanha-munisipaliteit het die plaateindstryd gewen deur Sea Vuna met 19-14 te klop.

Die Boland-rugbyunie (BRU) en die SA Rugbyunie (Saru) bied dié toernooi die afgelope 31 jaar aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.