Sommige voetballers se paadjie is uitgestippel

Bryan Habana - hy het sedert sy jong dae die hart vinniger laat klop. Foto GB Jordaan

Bryan Habana – hy het sedert sy jong dae die hart vinniger laat klop. Foto GB Jordaan

Hulle noem dit daai hoendervel-oomblik, wanneer jy ʼn jong speler in aksie sien wat destyds deur die legendariese Oubaas Markotter en Dok Danie Craven as voetballers beskryf is.

Dink maar terug aan HO de Villiers, Jannie Barnard, Mannetjies Roux, Peter Kirsten, Gysie Pienaar, Harry Viljoen, Brent Russell, Joost van Westhuizen, Carel du Plessis, Joe van Niekerk en Bryan Habana.

Daar is nog baie ander om op te noem, sommiges wat die heel hoogste sport bereik het, ander nie.

Hulle het almal vaart en visie gehad, kon systap en aftrap, kon enige verdediging aan flarde skeur.

Dis hulle wat die skares na Loftus, Ellispark en Nuweland gelok het, dis hulle wat nooit in ʼn blik gedruk kon word nie.

In die tagtigerjare was daar ʼn agtsteman op die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, Mielie van Zyl. Soms het hy in die nommer 8-trui gespeel, soms vleuel.  Wanneer hy aan die bal geraak het, het dinge gebeur. Maar hy het nooit sy volle potensiaal bereik nie. Was hy te klein, te voortvarend, te vlugvoetig?

Jare gelede het die gewese Bok-afrigter Kitch Christie, toe hy die destydse Transvaal nog afgerig het,  liries geraak oor ʼn 16-jarige skoolseun wat vir Horwhenua in Nieu-Seeland klubrugby gespeel het. Die jong Carlos Spencer was saam met die ewe jong Christian Cullen in dieselfde span wat in ʼn Ranfurlyskild-wedstryd vir Auckland dronk gehardloop het.

Ek het albei se loopbane noukeurig gevolg en hoewel hulle in die “ander kamp” was, was dit ʼn voorreg om hulle in aksie te sien. Hulle het dit albei op internasionale vlak gemaak, omdat daar selde aan hul natuurlike talent gekarring is.

Die gewese kaptein van Ierland en die Britse Leeus Brian O’Driscoll (hy was ook een van daai spelers) raak nou liries oor die jong Gary Ringrose, wat twee jaar gelede benoem is as een van die o.20-spelers van die jaar.

Ringrose (22) is deur die Ierse afrigter, Joe Schmidt, in watte toegedraai en hy maak dié naweek sy buiging in die Sesnasies-reeks, hoewel hy al toetsrugby gespeel  het .

Gaan hy dieselfde paadjie as van die ander voetballers volg?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.