Sondagmaal met net een braaistuk

Die Whitelock-broers Luke, Sam, Adam and George. (Foto: Stuff.co.nz)

Die Whitelock-broers Luke, Sam, Adam and George. (Foto: Stuff.co.nz)

Dis alles in die gene, het dr Danie Craven altyd gesê wanneer hy na rugbygesinne verwys het.

Die Morkel , Retief- en  Du Plessis-broers, Alf en Harry Walker, Felix en Morné du Plessis,  Cecil en Mike Jennings, Mauritz en Derek van den Bergh, Moaner en Wikus van Heerden, Louis en Uli Schmidt,  Hennie en Andries Bekker, Gysie en Ruan Pienaar, Groot Schalk en Klein Schalk Burger, Flippie en Flip van der Merwe, Jaco en Cobus Reinach en so aan.

Dis seker nie meer te lank voordat een van die drie Du Preez-broers (Robert, Jean-Luc of Dan)  hulle by pa Robert sal aansluit as die volgende Springbok se pa-en-seun-kombinasie nie.

Dan word daar `n baie blink toekoms vir Carel du Plessis se seun, Jean-Luc voorspel, hoewel hy Saterdag weens `n besering nie vir die Stormers teen die Chiefs kan speel nie. Net so het Michael du Plessis se seun, Daniel, reeds diep spore in die Kaap begin trap.

En wat van Doug Hopwood se kleinseun, Dylan Sage, wat vir die Blitsbokke op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in aksie sal wees?

Gepraat van die Spele, wanneer die Whitelock-gesin in Canterbury vir hul Sondagmaal aansit, sal die tafel maar leeg wees. Gewoonlik moet ma Caroline, twee groot bees-braaistukke in die oond druk om haar vier seuns, George, Adam, Sam en Luke te voed. Twee van hulle, Sam (Crusaders) en Luke (Highlanders) speel die naweek in die kwarteindstryd van die Superrugbyreeks. Al vier is All Blacks, al vier het baie diep spore vir die Crusaders getrap. Boonop is George se vrou, Kyala , kaptein van die Nieu-Seelandse vroue-hokkiespan wat binnekort Rio toe gaan.

Die Whitelocks se pa, Braeden, was `n Junior All Black, sy swaer (en Caroline se pa), is die oud All Black Nelson Dalzell, wat in 1953 en 1954 vyf toetse vir die All Blacks gespeel het.

Sy swaer is Allan Elsom, wat 6 toetse vir die All Blacks gespeel het en sy ander skoonseun is Graeme Higginson, wat ook in 6 toetse vir die All Blacks gespeel het.

Dis een van die redes waarom rugby so suksesvol in Nieu-Seeland is (en ook in die onder-ontwikkelende Samoa, Fidji en Tonga).

Dis in die gene.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.