Sondagskokke, maar Blitse steeds op koers om reeks te wen

Op ʼn dag van ʼn reeks hoogs onwaarskynlike uitslae het Suid-Afrika Sondag nóg twee keer verloor en het spanne wat vyfde en negende op die reekspuntelys is die eindstryd om die titel in Singapoer besleg.

In ʼn baie gelykop en goeie eindstryd het Kanada van ʼn voorsprong van 19-0 oënskynlik die titel weggegooi toe die VSA teruggeveg en met die geweldige vaart van Perry Baker sake twee minute ná rustyd met 19-elk gelykop gemaak het.

Maar die VSA se noordelike bure het vasgebyt, en met die laaste beweging van die toernooi  voor die einde die wendrie gaan druk en met 26-19 gewen.

♦   Suid-Afrika het sesde geëindig en die eerste keer in agt toernooie nie die eindstryd gehaal nie, terwyl net een van die voorste vier spanne in die reeks, Engeland, die halfeind gehaal en uiteindelik darem die bronsmedalje gebuit het.

Ondanks sy teleurstellende toernooi hoef Suid-Afrika in elk van die twee oorblywende toernooie, in Parys en Londen, net die kwarteind te haal om die reekstitel te wen. Om die kwarteind te haal, is 10 punte werd.

Suid-Afrika het ná die 12 punte wat hulle in Singapoer verdien het, nou 157 punte  op die algehele puntelys. Die Blitsbokke moet dus in elk van die twee oorblywende  toernooie in die toptwee van hulle groep eindig om 177 reekspunte te hê.

Fidji, tans op 132 punte, kan selfs al wen hy albei oorblywende toernooie hoogstens 176 reekspunte kry.

Engeland is uit die prentjie op 130 punte.

Sondag se Blitsbok- en ander skokke

Al die skokke Sondag het dus vir Suid-Afrika redelik goed geëindig. Ná Saterdag se neerlaag teen Engeland in die groepfase, het die Blitsbokke Sondag in die kwarteindronde met 17-19 teen Australië se baie jong span, insluitende ʼn skoolseun, vasgeval.

Dit het beteken dat hulle uit die halfeind was. Maar die VSA het Fidji in die kwarteind geklop en die All Blacks het ook húlle kwarteind teen Kanada verloor.

Drie van die vier voorste spanne was dus uitgeskakel, maar toe kom Engeland en bederf die string verrassings met ʼn skep-strafdoel ná die eindtoeter teen Kenia en wen 13-12.

Die Blitsbokke moes toe teen Fidji, hulle naaste teenstander op die reekspuntelys, uitspeel om te sien wie in die ‘eindstryd’ vir die vyfde plek sal kan speel. Suid-Afrika het die wedstryd teen Fidji met 19-14 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Swak skopwerk kos Blitzbokke.Is daar nie geld vir skopafrigter nie.Dit is al wat kort kom by die span,wat sulke goeie ambassadeurs vir ons land is.Onverdoelde drieë het wedstryd teen Aussies gekos,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.