Sonny Bill gooi knuppel in die hoenderhok

Sonny Bill Williams (Foto: Facebook)

Moet nooit in ’n argument oor politiek of godsdiens betrokke raak nie.

Dit was die raad wat ons jare gelede saam met ons graanvlokkies ingekry het, toe die Natte aan bewind was en die Sappe die amptelike opposisie was. Huishoudings is in twee geskeur.

Aan die kerklike front het dit nog erger gegaan, want sedert die Groot Trek was daar ʼn groot dwarstrekkery (as ek die byname reg onthou, tussen die Doppers, Gaatjieponners en Hervormers). Huishoudings is in drie geskeur, jy moes liewer maar met jou “eie mense” trou.

In Nieu-Seeland het die All Black-senter Sonny Bill Williams Saterdag ʼn gefladder in die hoenderhok veroorsaak toe hy in die Superrugbywedstryd tussen die Blues en Highlanders die logo van die BNZ-bank op sy kraag toegeplak het.

Williams, ʼn Moslem, weier om geloofsredes en -oortuigings met embleme van banke, finansierings-, alkohol-, sigaret- en dobbelmaatskappye op sy trui te speel. Dit is in sy kontrak geskryf en daar heers nou ʼn groot debat. Selfs die Nieu-Seelandse eerste minister, Bill English, het daartoe toegetree en Williams gekritiseer.

Dis ʼn taai tameletjie, want as my oë my nie mislei het nie, het Williams steeds ʼn Investec-logo (ʼn private bank) op sy linkerarm gedra.

Jare gelede was die gewese Springboksenter Michael du Plessis die voorbok, en in die moeilikheid, toe die spelers ʼn borg se (klein) logo in ʼn feeswedstryd toegeplak het. Die spelers wou hul pond vleis gehad het; hulle wou in die borgskap gedeel het.

Die gewese Nieu-Seelandse toetsflank, Josh Kronfeld, was amper in die moeilikheid toe hy ʼn anti-kerntoetsboodskap op sy swart kopskerm op ʼn toer na Frankryk wou dra. Gelukkig vir die rugbybase het Kronfield voor die toer ʼn besering opgedoen en dit het nooit gebeur nie. Sjoe!

In 2009 was die Bokke in die moeilikheid toe hulle met wit armbande in die derde toets teen die Britse en Ierse Leeus gespeel het. Dit was in solariditeit met hul spanmaat Bakkies Botha wat vir twee weke geskors was.
Waar trek die sportbase die streep?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Boerseun ·

Meskien moet die borge dan n % van hul geld weerhou, 1 uit 23 van die geld.

Koos1 ·

Amla speel al vir jare sonder die hoof borg Castle se naam krieket, en daar is geen probleem nie. Ek dink hierdie word oordryf.

Boerseun ·

En dit is ook n probleem, wat as elke speler weier om n borg se naam te dra oor een of ander rede?

Snaaks hoe die atieste heeltyd die Christene uit sonder maar is tjoep still as n moslem sy geloof af dwing. As geloof uit skole moet geloof uit sport. Maar ja, politiek is ook nie toegelaat volgens internationale sport liggame nie en kyk hoe hulle dit implimenteer.

AJ Neethling ·

Dis daai einste borg wat toegeplak word wat help om die salarisse te betaal. Hoe geloof uit sport net soos politiek. Kry dan eerder vir jou iets wat jy kan doen waar jy nie borge hoef toe te plak nie.

Gawie ·

Wat help dit jy plak die borg se naam toe maar kry steeds die voordele? Belaglik, huigelaar.

Liza ·

Natuurlik is daar 2 kante aan ‘n saak. Aan die een kant haal ek my hoed af vir hom dat hy opstaan vir dit waarin hy glo. Aan die ander kant as borg en wat dalk sy salaris betaal wil sekerlik die borgskap sigbaar op truie ens he?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.