Sonny Bill wil toks vir boks verruil

Sonny Bill Williams. Foto: Christophe Simon/AFP.

Die Nieu-Seelandse Wêreldbeker-wenner Sonny Bill Williams het sy uittrede uit rugby aangekondig. Maar die 35-jarige ster gaan glad nie ledig by die huis sit nie; hy beplan om ’n loopbaanpad in die bokskryt oop te veg.

Die wêreldwye Covid-19-pandemie het sy tyd by die Toronto Wolfpack-span in die wiele gery, terwyl hy vir net ’n kort rukkie deel van die Sydney Roosters-opset was.

Nou het hy aan die Australiese uitsaaier Channel 9 gesê dat die tyd ryp is om iets nuuts te probeer; veral as die eise van rugby te veel op sy lyf is.

Williams het al vantevore in die bokskryt geklim en hy het sy laaste professionele geveg – in 2015 teen die VSA se Chauncy Welliver – gewen. Hy het ook op ’n omstrede wyse met Suid-Afrika se Francois Botha afgereken toe die geveg glo van 12 tot tien rondes verkort is.

Daar was verlede jaar selfs sprake dat hy vir Mike Tyson in ’n uitnodigingsgeveg sou aanvat. Hoewel dit nie gerealiseer het nie, is hy nou vuur en vlam om weer sy bokshandskoene aan te trek.

“Ek het met my bestuurder gepraat en gesê dat ek gretig is om weer vir die volgende paar jaar in die kryt te klim. Ek is 35 jaar oud en ek het dit natuurlik eers met my vrou bespreek; sy was aanvanklik skepties, maar nou ondersteun sy my,” het Williams gesê.

Die sterk agterspeler was een van Wêreldrugby se mees gevreesde senters. Sy vermoë om die bal in ’n kontaksituasie uit te gee, het duisende ander rugbyspelers geïnspireer om iets soortgelyks te probeer, terwyl hy ook een van die vriendelikste spelers op die internasionale verhoog was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MakersMark ·

Dalk moet sy volgende geveg teen Eben Etsebeth wees……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.