Soos brood sonder botter

Ian Macintosh en Des van Jaarsveldt (Foto: sarugbylegends.com)

Ian McIntosh en Des van Jaarsveldt (Foto: sarugbylegends.com)

Dit was een van die hoogtepunte van die jaar … die Curriebekerwedstryd teen die destydse Rhodesië in Salisbury of Bulawayo.

Daar is geen genade gevra of betoon nie en dis waar die manne van die seuns geskei is en nuwe leiers na vore getree het.

Suid-Afrika het jare gelede baie goeie sportbande met Rhodesiese (Zimbawe) en Noord-Rhodesiese rugby gehad. Trouens, ses spelers met Rhodesiese bande het die Springbokke aangevoer en `n rits ander het ook vir die Bokke gespeel.

Die eerste speler wat in Rhodesië gebore is en daar gespeel het, Des van Jaarsveldt, het die Bokke in 1960 teen Gordon Waddell se Skotte aangevoer. Van Jaarsveldt, toe 31, het `n puik drie in die toets in die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth gedruk, maar is vir die daaropvolgende reeks teen die All Blacks gepos.

Die Bokke het die Skotte 18-10 geklop en toe Van Jaarsveld later gevra is hoekom hy gepos is, het hy gesê “omdat ek nie Afrikaanse kon praat nie”.

Die oud-Nataller Roy Dryburgh is ná net een toets in Van Jaarsveldt se plek as kaptein aangestel.

Die ander gebore “Rhodesiërs” is Corné Krige (wat in Lusaka in Zambië gebore is), Bob Skinstad (Bulawayo) en Gary Teichmann (Gwelo). Dan was die Noord-Transvaalse slot Salty du Rand (Hofmeyr) en Piet Greyling (Zastron) ook Bok-kapteins, hoewel hulle in Suid-Afrika gebore en net `n paar wedstryde vir Rhodesië gespeel het.

Ironies genoeg het Du Rand (1956) en Greyling (1972) die Bokke ook in net een toets aangevoer, terwyl Teichmann (wenpersentasie van 72% in 39 toetse as Bok-kaptein), een van die suksesvolste Bok-kapteins dusver was).

Wie sal ooit Ray Mordt, Ian Robertson, David Smith, Ryk van Schoor  Adrian Garvey en Andy McDonald se bydraes in `n Bok-trui vergeet?. En wat van Thonderai Chavhanga, Tendai Mtawarira, Pieter Dixon en Brian Mujati?

En wat van die legendariese kanniedood, die oud-Bok-afrigter en huidige nasionale keurder, Ian McIntosh, wat steeds diep spore in SA rugby trap?

Dis hoekom `n mens nostalgies raak toe die Blou Bulle en Cheetahs besluit het om `n Superrugby-littelosmaker in Harare te speel.

Jare lank het al die oorsese toerspanne `n draai  in die destydse Rhodesië gemaak. Om nie teen Rhodesië te gespeel het nie en op die koop toe ook die Victoria-waterval te besoek nie, was soos brood sonder botter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Egbert ·

Toe die wes-Europeërs Rhodesië moes verlaat het die liefde vir rugby ook die land verlaat. Selfs swartes wat talentvol saam kon speel kon niks betekenisvol laat behoue bly nie.
Die Internasionale Rugby Raad sal dit ook nie terugbring nie.
Dit kos baie meer as talent om ‘n bepaalde sport te laat gedy.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.