‘Sorry, Suid-Afrika,’ twiet Rassie

Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Rassie Erasmus, Suid-Afrika se direkteur van rugby, het op sosiale media beloof dat die Springbokke hul sokkies gaan optrek om hul ondersteuners trots te maak.

“Geluk met die wen, Ierland, en jammer, Suid-Afrika. Ons sal net harder werk om julle trots te maak,” het die Wêreldbeker-wenafrigter getwiet.

Die Springbokke het Saterdagaand met 13–8 teen Ierland in ʼn klipharde Wêreldbeker-wedstryd op die Stade de France verloor.

Erasmus het ook die skeidsregter Ben O’Keeffe bedank.

“Dit was goed om deel van ʼn intense en fisieke wedstryd te wees waar die skeidsregter nie te veel betrokke was nie. Welgedaan, Ben en jou span.”

Die nederlaag teen Ierland beteken dat Suid-Afrika heel waarskynlik teen Frankryk in die kwarteindstryd van die toernooi gaan speel.

Skotland kan ook nog in die Bokke se uitspeelpad staan, maar die doedelsakspelers sal nie net bonuspuntoorwinnings teen Tonga en Roemenië moet behaal nie, hulle sal ook ordentlik vir Ierland moet ore aansit.

“Dankie, Suid-Afrika, vir al jul ondersteuning. Dit was regtig lekker [maar hartseer],” het Erasmus afgesluit.

Jacques Nienaber het vroeër bevestig dat die Springbokke hul volle aandag op die Tonga-wedstryd toespits.

“Ons kan nie bekostig om aan Frankryk te dink nie. As ons teen Tonga struikel, kwalifiseer ons nie eens vir die kwarteindstryd nie.”

Die Bokke het na hul basis in Toulon teruggekeer om vir die wedstryd teen die eilandmanne voor te berei.

Die kragmeting teen Tonga word op 1 Oktober in Marseille beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Check die scoreboard, sorry, te laat, bertroubare skopper is van kardinale belang.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.