Sou Breyton Paulse dié Fidjiaan kon keer?

Breyton Paulse en Jonah Lomu na nog n drielose toets vir die groot All Black-vleuel (Foto pt.klear.com)

Breyton Paulse en Jonah Lomu na nog n drielose toets vir die groot All Black-vleuel (Foto pt.klear.com)

Sergeal Peterson moet by Breyton Paulse gaan kers opsteek .

Peterson is, net soos Paulse in sy speeldae was, baie gevaarlik op die aanval, maar Saterdag in die Wembleystadion in Londen het hy die Bok-ondersteuners sooibrand met sy verdediging gegee.

Ter versagting moet bygevoeg word dat hy teen die monstervleuel, die Fidjiaanse-gebore Wallaby Taqele Naiyaravoro te staan gekom het.

Naiyaravoro, wat as speler van die wedstryd aangewys is, weeg 123 kg en is ʼn paar keer bo-oor Petersen. Dis eintlik verrassend dat die Fidjiaan nie in die Wallaby-groep is nie (miskien oor die Wallabies se reëls oor oorsese spelers?) want as jy hom reg gebruik, is hy onstuitbaar – net soos  Jonah Lomu, Inga Tuigamala, die oud-Bokke Gert Muller en Carel Fourie, Nemani Nadolo en  Lote Tuqiri.

Hoe keer jy ʼn weghol-lokomotief op volle vaart?

Vra maar vir Paulse, wat die kuns verstaan het om Lomu in toom te hou. Paulse was selfs ʼn paar kilogram ligter as Petersen, maar hy het dit reggekry om Lomu – 120km – in ses toetse van die doellyn af weg te hou.

Lomu, wat 37 drieë vir die All Blacks in 63 toetse gedruk het, kon dit nooit teen Paulse vermag nie. Soms het Paulse Lomu van die kant af platgetrek; hy het hom  een of twee keer van agter af ingehardloop; soms het hy hom tromp-op geloop en soms het hy aan hom gehang. Hy was Lomu se tier.

Dit het my laat terugdink aan die vuurvreter All Blacks-vleuel Grant Batty, wat in 1976 op toer in Suid-Afrika was. Batty was net 1,65 m lank en het net 70 kg geweeg, maar hy het die Bokke gryshare besorg.

Dié kapokhaantjie se regterknie was toe reeds voos, maar hy het aan- en uitgehou en die Bokke en die ondersteuners al hul dae besorg. Hy het nie ʼn bang haar op sy kop gehad nie (hy het toe al begin bles word), het ʼn welige pikswart Zapata-snor gehad en in al vier toetse teen die Bokke gespeel. Hy het gewys dat grootte nie al is wat saak maak nie.

Verdediging het baie met houding en ʼn groot hart te doen en daar wag harde werk op die Bokke se verdedigingsghoeroe, JP Ferreira. As Peterson die nodige vaardighede op die aanval en verdediging kan kombineer, wag daar ʼn groot toekoms op hom.

Knap hy nie sy verdediging op nie, sal sy loopbaan stagneer, want een van sy groot leemtes is binne 80 minute ontbloot.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

callie ·

Dankie dat nog iemand dit raaksien. Dieselfde probleem is met Cheslin Kolbe. Nou moet die kommentators en Superugby span op Maandag aande ook net ophou om spelers in spanne te probeer inpraat. Heyneke Meyer was gekruisig oor Kolbe deur Superugby aanbieders. Kolbe se verdediging is nog swakker as die patetiese verdediging van Seagul Peterson.

Scalla ·

Vat hom net om sy enkels en hy gaan grond toe, al is die speler ook hoe groot en vinnig

bendons ·

Doodval Mannetjies Roux styl is al wat werk. Vra maar vir Paulsen hy weet ook hoe. Maak Paulsen ons verdediging afrigter dan sal ons baie beter vaar.

Braam Maree ·

Paulse kon nie eers die ligte spelers verdedig nie. Gaan vra vir Faf by die Lions vir raad hoe dit gedoen word.p

ChrisH ·

Ek wil nie snaaks wees nie maar Paulse het nooit vir Lomu 1 op 1 geduik nie. Daar was altyd n 2 en 3de speler by om te duik en keer.

Pieta ·

ChrisH ou maat, “NOOIT… 1 op 1”? “ALTYD ‘n 2de of 3de…”?? Verskoon, maar dan het jy beslis net dele van wedstryde gesien! Jy weet nie wat jy gemis het nie!

Frans C ·

Dit is wat oor Paulse geskryf is”Paulse and Lomu squared up to one another on opposite wings in six Tests and Lomu, whose career effectively ended two years ago with a kidney disease, hung up his boots without ever scoring a try against South Africa.

This was not, however, entirely due to Paulse’s defence as the Springbok wing never really threw himself into tackles. Instead he shadow boxed, making a nuisance of himself and harassing his opponent until the cover defence arrived to finish off the job.

Lomu was thus never able to bully Paulse with the same punishment inflicted on Underwood at Newlands in 1995. But Paulse never made much impact on defence either.”

Oompie ·

Wat? Het Breytie Lomu van vooraf aangevat, 1 op 1. Ek sal moet gaan soek op youtube.

Verwar julle nie vir die uwe Breytie met James Small nie?

Wat ek wel weet, is dat Wim Meyer, gereken as hoogs ‘n gemiddelde vleuel, vir ou Breytie saam gesleep het doellyn toe vir sy drieë tydens ‘n Curriebeker Finaal op Loftus.

So, ek sal maar gaan soek op youtube vir Breytie se doodelike lakwerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.