Sou Jan Boland Coetzee dit vandag gehaal het?

Jan Boland Coetzee (Foto: Facebook)

Die Lions se Springbokhaker, Malcom Marx, word allerweë as die wêreld se beste haker beskou, want hy het die afgelope twee jaar nie sy gelyke nie.

Net voordat ’n losskrum gevorm word, kan jy maar seker wees dat Marx sy hande op die bal gaan kry en op sy voete gaan bly om ’n strafskop af te dwing.

Vergeet van die ou baljagterflanke soos ons hulle destyds geken het, dié ouens wat op die grond saam met die teenstanders om die bal gestoei het.

Dit laat ’n mens terugdink aan baljagters van die verlede, soos Jan Boland Coetzee.

Hoe sou hy vandag gevaar het, sou hy ingepas het? Sou hy steeds as te klein (net soos ’n Heinrich Brüssow en CJ Stander) in sekere kringe beskou word?

Coetzee, een van die land se beste wynmakers, is die Maties se 104de Springbok, maar hy het in net ses toetse tussen 1974 en 1976 gespeel.

Hy is ’n onreg aangedoen, want ek glo dit moes meer, sommer baie meer gewees het.

Coetzee, wat tussen 1965 en 1979 vir die Maties gespeel het, moes met ander staatmakers soos Piet Greyling (tot 1972), Jan Ellis en Morné du Plessis (wat ’n hele paar keer flank gespeel het) meegeding het. Maar ai, sonder om enige ander speler na te kom, was Kleintjie Grobler, Klippies Kritzinger en Polla Fourie beter baljagterflanke as Coetzee?

Ja, hulle het ander vaardighede gehad en dis hoekom die keurders hulle gekies het, maar as ’n baljagter wat ook verwoesting onder die agterspeler gesaai het, het Coetzee uitgetroon … en dit komende van ’n destydse Noord-Transvaalse ondersteuner.

Coetzee se sterkpunt was sy natuurlike krag, wat hy gekry het deur die donkiewerk op wynplase te verrig, net soos ’n ander wynmaker, Hempies du Toit.

Wanneer Coetzee eers aan ’n bal geklou het, het hy nie laat los nie, soos ’n bulhond met ’n been.

In vandag se terme troon Marx en die Wallaby-flank David Pocock uit. Die All Blacks spog met Matt Todd (wat ook in baie meer toetse moes gespeel het, maar in die skaduwee van Richie McCaw en Sam Cane beweeg het). Wallis en die Iere het ook hul kwota spelers wat besit vertraag, of dit ontneem.

Hoekom vaar die Bokke goed met Marx in die enjinkamer?

Want hy stook die vuur, net soos Jan Boland Coetzee dit jare gelede gedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

volla ·

Dis die probleem met ons huidige Bokspan, te min spelers van werklike wêreldgehalte. Ek sou sê dat slegs Marx, Vermeulen, Kitshoff en Etzebeth (op sy beste) in daai klas tel. En dis almal voorspelers, ongelukkig nie een wêreldklas agterlynspeler nie.

Buffel ·

Jan Boland is meer bekend vir sy wynmakery as sy rugby. Daar is ‘n rede voor. Hy was nooit regtig so goeie rugbyspeler nie. Sterk ja….. dis waar dit eindig.

Paul ·

In spanne word baie spelers in kombinasie gekies, vleuels soos Jan Engebrecht of Ray Mordt was uniek en die uitsondering, hulle kies hulself, maar met senters word na kombinasie gekyk, buiten natuurlik vir mannetjies Roux, skakelpare, spelpatrone, die voorry, slotte, waar wil jy hê moet jou lostrio inpas, so maklik soos dit! O’ja en Naas het ook homself gekies, hy was man alleen ‘n wedstryd wenner.

Paul ·

Pieter jy is 100% korrek met daai laaste sin, sekere individue kan net daai ekstra vuur inbring, die teenstaders besig hou, ‘n weerligafleier en dan kan die res van die spelers baljaar.

Joe ·

Interesante artikel. Ek het nie geweet dat Wallis en Ierland ook kwota spelers het nie… en dat hulle ook die besit vertraag and ontneem nie.

Johan ·

Interessante artikel en elkeen sal natuurlik sy opinie kan gee en wie sal weet wie is reg?? Gegewe die reels dink ek dit is nogal moeilik om te vergelyk. Wat gebeur deesdae met Malcolm Marx. Hy is weliswaar die eerste speler daar (behalwe die ou wat die opponent geduik het) wat die bal mag speel. Nou probeer hy regmatig die bal afneem. Wat gebeur gereeld? Marx en die opponent (wat tweede aangekom het) stoei om die bal en niemand wen regtig besit nie. Skaakmat situasie. Spel gaan volgens skeidsregter dood. Fluitjie blaas. Strafskop aan Marx se span. Marx is die held.

In die “ou dae” met ander reels, is spel meestal toegelaat om aan te gaan (langer in elk geval). In die soortgelyke situasie (vervang net Marx se naam met Boland Coetzee), sou Boland Coetzee agv sy krag die bal afgeneem en beskikbaar gemaak het aan sy span. En dit is juis die verskil vir my.

Ja Malcolm Marx is ‘n goeie speler met kritiese omkeerbesit wat al gewen is. (Kom ons los die kwessie of skeidsregters juis nou as gevolg daarvan “bevooroordeeld” raak en “ten gunste van Marx” blaas in die 50/50 situasies. Dit is ‘n ander debat.) Boland Coetzee was ook inderdaad puik. Die spel het verander en die reels en interpretasie daarvan. Maar ek dink Boland sou steeds ‘n impak gehad het. Puik speler gewees.

Steyn ·

Ja wat, in land van blindes is een oog koning volgens my pa. Marx wen miskien 3/4 strafskoppe ne oor hy staan en wag vir aanvaller, sien nooit dat hy bal jag of pleinreguit afneem by oponent nie. Flanke is ook nie meer eerste by afbreek punte nie want hulle vorm nou deel van agterlyn en agste man staan diep omdat vleuls mos onder in los gemaal le in pleks om uit te stoei en sy plek te gaan vat.

Menigde jong manne se agterstewe het gebrand soos onnie jou warm gemaak het om by afbreek punte te kom, selfs die grootste stut het deur geloop. en ja, dit nie net leeus wat so speel nie, dit is al die spanne en word nou al by laerskole ook so geoefen.

Elmer Swanepoel ·

“cometh the moment, cometh the man”. Jy kan nie vandag se helde met die van 10 of 50 jaar gelede probeer vergelyk nie .Jy is net goed solank jy nie beseer word of daar ‘n beter speler vir jou posisie na vore tree nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.