Sou Owens vir Balie Swart afgestuur het?

Nigel Owens wys die geelkaart aan die baljoggie (Foto stuff.co.nz).png

Nigel Owens wys die geelkaart aan die baljoggie (Foto stuff.co.nz).png

Die Walliese skeidsregter Nigel Owens het Saterdag in Dublin nog ʼn paar  regmerkies vir sy humorsin gekry en gewys waarom hy straks die wêreld se voorste skeidsregter is toe hy ʼn geelkaart aan ʼn baljoggie uitgedeel het.

Owens was in beheer van die kragmeting tussen Leinster en die Scarlets in die Pro12-liga toe die voorval in die 75ste minuut gebeur het.

Owens het ʼn strafskop aan die Scarlets net duskant die middellyn toegeken, wat in daardie stadium met 7-38 agter was. Die seun het die bal na die skopper gegooi, maar Owens per ongeluk teen die kop getref.

Owens het onmiddellik, met ʼn groot glimlag, ʼn geelkaart uitgepluk en aan die seun gewys om in die afkoelstoel te gaan sit. Kort voor die daaropvolgende lynstaan het Owens, tot groot vermaak van die kommentators en toeskouers, die seun se hand geskud en spel laat voortgaan.

Dit het ʼn mens laat terugdink aan ʼn voorval in 1998 in Kimberley, toe die toetsskeidsregter, André Watson wat twee Wêreldbekereindstryde beheer het, al sy dae met Griekwas en Transvaal in ʼn destydse Curriebekerwedstryd gehad het. Kyk, dis moeilik genoeg om skeidsregter te wees wanneer die voorrye nie wil saamspeel nie. Dis nog moeiliker wanneer ʼn skrumghoeroe soos Balie Swart, wat in sy speeldae ʼn regte platjie was, aan jou voorskryf hoe om te blaas.

Watson se geduld was op en toe besluit hy om ʼn kaart uit te pluk, wat hy nie kon kry nie. Swart het intussen die rooikaart op die veld opgetel en tot groot vermaak van die spelers, kommentators en ons voor die televisiestelle by die huis, aan ʼn briesende Watson gewys.

Swart is afgestuur en dit het baie oortuiging van die destydse Transvaalkaptein, André Vos, gekos om Swart te oortuig om Watson se beslissing uit te voer.

Hoe sou Owens opgetree het?

Om in Wallis te blaas, moet jy hare op jou tande hê, veral wanneer die manne in die laer liga’s mekaar pak.

Saterdag in Bettws Lane (kan die Walliesers nie spel nie?) het die skeidsregter ʼn wedstryd in die derde liga tussen Malpas (Newport) en West Mon (Pontypool) afgelas. Volgens Wales on Line is vyf spelers afgejaag na vuil spel (kopstampe en vuisgevegte) voordat die wedstryd twee minute vroeg beëindig is.

Malpas sê dit was dit nie ʼn  vuil wedstryd nie,  want die manne het dan ná die tyd saam ʼn bier gedrink.

Maar die Walliese Rugbyunie dink nie so nie en het nou ʼn ondersoek gelas.

Dis waar Owens sy tande as skeidsregter geslyp het en sy humorsin vandaan gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.