Sou Paul Willemse ʼn Springbok geword het?

Paul Willemse (Foto: MHR)

Paul Willemse het vier jaar gelede een van die moeilikste besluite van sy rugbyloopbaan geneem, maar dit was na alle waarskynlikheid die regte een.

Willemse, wat vyf keer vir die Junior Springbokkies in 2012 by die Wêreldkampioenskap vir o. 20-spanne gespeel het, het ʼn wedstryd vir die Lions se Superrugbyspan in 2012 gespeel voordat hy in 2013 na Pretoria is waar hy 20 keer vir die Bulls uitgedraf het. Hy het ook ses keer vir die Goue Leeus se Vodacom- en Curriebekerspanne gespeel asook 23 keer vir die Blou Bulle.

Hy is uit dieselfde stuk graniet as Bakkies Botha gekap: groot, sterk, vurig en vaardig, hoewel daar hier en daar gesê is dat hy te lomp is (2,01 m en 135 kg) en te veel oortollige gewig dra.

Sy loopbaan in Suid-Afrika was om die een of ander rede in ʼn amperse doodloopstraat. Nie oor kwotas nie, want afgesien van Marvin Orie, watter ander slotte van kleur het na vore getree?

Hy het destyds, onder andere, met Victor Matfield, Juandré Kruger en Flip van der Merwe by die Bulls meegeding, terwyl Eben Etzebeth en ook Lood de Jager op die Springboktoneel verskyn het.

Later het Franco Mostert, RG Snyman, Jason Jenkins, Orie en JD Schickerling ook nog gevolg.

Sou Willemse vir die Springbokspan gespeel het?

Kom ons kyk na sy agtergrond: Hy het in Tsumeb grootgeword en het as 16-jarige skoolseun vir Namibië se Cravenweekspan in 2009 gespeel voordat hy na die Hoërskool Monument in Krugersdorp gelok is waar sy junior loopbaan behoorlik vlamgevat het.

Ná ʼn lang draai by Tukkies en die Bulle, het hy besluit om in 2014 na Frankryk te verhuis, waar hy 17 keer vir Grenoble gespeel het voordat hy na Montpellier (wat toe deur Jake White afgerig is) oorgeskuif het.

Hy staan nou op die randjie van insluiting in die Franse groep vir die komende Sesnasies-reeks.

Al wat kortkom, is sy Franse paspoort (sy aansoek in reeds goedgekeur) wat binne die volgende paar dae aan hom oorhandig sal word.

In Frankryk sal hy, onder andere, met Yoann Maestri, Paul Gabrillagues, Felix Lambey, Arthur Iturria en Sebastien Vahaamanina moet meeding.

Sal hy die Franse span haal? Ek glo Willemse is goed genoeg, maar ek weet nie of hy vir Etzebeth, Mostert en De Jager-hulle uit die Springbokspan sou gehou het nie.

Dis hoekom hy nie spyt sal wees omdat hy na Frankryk verhuis het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Albert ·

Hy is in dieselfde staal gemaak as Bakkies maar ons laat hom gaan, dan kla ons ons rugby is so so, was hy in NZ sou hul hom in watte gedraai het en hom saam met Bakkies geoefen het en hom so nou en dan laat speel het . Toe Bakkies uit tree hy ingestap het wat die werk kon doen en dit is wat ons nou kort, n Bakkies, daar is nie een van die slotte tans wat dit doen nie. As ek Rassie is sal ek hom dadelik laat weet hy is in die Springbok groep na Japan.

Wesley ·

Trotse SA uitvoer, daarvan is ek verseker. Met soveel slotte wat na voorentoe tree was hy nie verseker van n plek nie en die geld skaarste hier vir spelers glo ek hy het die regte besluit gemaak, wel gedaan aan hom. Hy loop in dieselfde tree as Pieter de Villiers, Bernard le Roux en diesmeer wat baie goed gedoen het vir Frankryk. Mag hy dalk ons afstaan van hom aan hul spyt oor wees…

Johan ·

Nee wat as ek in sy skoenne was het ek ook getoer. Die skippie sal defnetief nie float nie. Alle sterkte vir jou

John ·

Watter een vd hoogs aangeskrewe Kwota slotte maak skoon soos Bakkies van ouds? Hmmm, nie een nie!

Vraagteken ·

John, het jy nie die artiekel gelees nie? Dit word duidelik gesê dat daar nie ander kwota spelers as slot beskikbaar is nie – Willemse kon nie span haal nie as gevolg van ander wit spelers wat ook goed was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.