Sou Rassie dit (net) as nasionale keurder gemaak het?

Rassie Erasmus (Foto Munsterrugby.ie)

Rassie Erasmus se kop kon reeds op die blok gewees het as hy (net) ʼn nasionale keurder was.

Ja, Erasmus is besig om proefnemings te doen vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan. En wie kan nou kla wanneer die Springbokke die All Blacks in Wellington klop?

Maar Erasmus (Peter Jooste is ook ʼn nasionale keurder) het sedert die eerste toets teen Wallis op 1 Junie vanjaar Springbokkleure aan 20 nuwelinge toegeken. Dan praat ons nie eens van spelers wat hy nader getrek het wat reeds die Groen-en-Goud gedra het nie.

Maar nou ja, dit kom algemeen in wêreldrugby voor.

Kies en pos, kies en pos …

Jare gelede, toe oud-Springbokke soos Dok Danie Craven, Flappie Lochner, Ian Kirkpatrick, Avril Malan en prof. Johan Claassen Springbokspanne gekies het, moes hulle meestal op nasionale proewe staatmaak, en so ʼn paar keer gedurende die seisoen wanneer van die voorste spanne soos Noord-Transvaal die Westelike Provinsie, Transvaal, Vrystaat , die Oostelike Provinsie, Natal en Griekwas teen mekaar gespeel het.

Hulle het langs die veld gesit en aantekeninge maak en dan ure lank gekoukus wie in die span moes wees.

Daar was nie televisie nie, geen rekenaars om die spelers se spel, fiksheid en vermoë te ontleed nie, net een of twee wedstryde om besluite te maak.

Die afrigter se hande was in ʼn mate afgekap, want hy het ʼn span geërf wat deur die keurders aan hom gegee is. Vir tuistoetse kon hy ook eers van die Donderdag voor die toets af die span die eerste keer laat saamoefen.

Dis hoekom die nasionale keurders se taak tóé soveel groter was, want hulle het die spelers gekies wat in die loopgraaf sou lê.

Dit het by ’n paar geleenthede gebeur dat Dok Craven (as president van die Sui-Afrikaanse Rugbyraad) ingegryp en die keurderpaneel afgedank het, of erg geroskam het.

Toerspanne het ook kopspeletjies gespeel en die SA keurders tot foute gedwing, soos in 1974, toe daar voor die derde toets glo nie meer genoeg materiaal vir Springboktruie en -baadjies was nie.

Hoe is dié Bokspan gekies?

Die WP is kort voor die eerste toets met 17-8 deur die Britse Leeus (op ʼn droë veld) geklop en dit het die keurders genoop om agt WP-spelers vir die eerste toets op Nuweland in te span. Maar toe reën dit in die Kaap en die Bokke kry met 3-12 slae.

Kort voor die tweede toets het Transvaal die toerspan laat klippe kou en het die Leeus met 23-15 gewen.

Wat doen die keurders toe? Hulle bring ses veranderinge en  ʼn posisionele skuif aan die span aan wat op Nuweland verloor het (insluitende die insluiting van Transvalers soos Dave Frederickson en Kevin de Klerk). Maar toe gedy die Leeus op ʼn droë Loftus en klop die Bokke met 28-9.

Kort voor die derde toets wys die Vrystaat glo hoe om die Leeus te klop en vier Vrystaters kry plek in die Springbokspan vir die derde toets in die Baai, insluitende die agtsteman Gerrie Sonnekus op skrumskakel.

Weer verfrommel die Leeus die Bokke en wen met 26-9.

Vir die laaste toets op Ellispark hou die keurders die snoeiskêr in die laai en maak net  twee veranderinge en twee posisionele skuiwe.

Die eindtelling? Die toets eindig met 13-elk gelykop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Frans C ·

Was daar in 1974,gelukkig met die Leeus sterk op die aanval blaas die skeidregter die fluitjie ‘n paar minute vroeg en voorkom ‘n ‘whitewash’. Nietemin ‘n baie beter vertoning
deur die Bokke.
Snaaks genoeg in 1960 op die einste veld buig die Springbokvoorry die All Blackvoorry
soos spykers om en niemand kyk na die skeidregter om te sien of daar ‘n geelkaart,strafskop of so iets gaan kom nie.
Die manne het net opgestaan en weer geskrum en die skare het later ontplof toe Hennie van Zyl rondom die beroemde All Black heelagter,Don Clarke hardloop om sy drie te druk.

Wat ek van die dag kan onthou ,hoe ons wat op die graswal sit,later moes opstaan om plek te maak vir mense en naderhand reg teen die heining beland het.Daar was die dag
75 000 mense in die stadion,egter minder as die 90 000 in 1955 toe die Lions die Bokke
23-22 geklop het en ‘n verlate Jack van der Schyff voorblad nuus gehaal het toe hy misluk,met ‘n vervyfskop wat die Bokke soulaat wen het.

Hy is toe weggelaat.Nog altyd gedink dat die voorbarig was,want die Leeus het immers
5 drie teenoor die Bokke se vier gedruk.Dus 9 drieë.Is daar nog mense wat sê dat toetsrugby die tyd ‘boring’ was.4 van die Leeus se vyf drieê is vervyf.
Van Suid Afrika se 4 drieë is slegs, twee vervyf, maar daar was 2 geslaagde strafskoppe.

Frans C ·

En die punt is,as jy dit nog nie agter gekom het nie.Die ouens het minder gekla en minder afrigters nodig gehad om rugby te speel en kon 70 000 mense betrokke by die spel gekry anders as vandag waar skeidregters die skrum so moet beheer om te keer dat hele spulletjie op hul neuse beland nie.

Conrad ·

Die punt is (dalk): Jy kan in jou eie sitkamer sê, en rook, en dit hoef nie sin te maak nie.

Willem ·

Kyk hoeveel veranderinge is aan die span gemaak, dis waar die kruks lê, oefen jy met jou spankeuses gedurende toetse, of kry jy dit voor die tyd reg?

LHS ·

Punt is, met al die tegnologie beskikbaar hoef jy nie met spelers te eksprimenteer nie, hoef jy nie oud spelers weer te gaan opgrawe nie, hoef jy nie op so laat staduim steeds te soek na die beste spelers nie, hoef jy nie ter wille van , die beter spelers in sekere posisies, uit te laat nie, hoef jy nie reeds bewese kapteins ter wille van, nie weer te kies nie, hoef jy nie net na spelers te kyk omrede hulle dalk moontlik goeie spelers was nie, hoef jy nie eenogig te wees nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.