Southern Kings terug in plaaslike hande

André Rademan – nuwe Kings-voorsitter. (Foto: Twitter)

Die SA Rugbyunie (Saru) het Donderdag in Kaapstad aangekondig dat die Southern Kings ná meer as twee jaar onder sy bestuur terug in plaaslike hande geplaas is.

Die Kings speel tans in die Europese Pro14-reeks nadat dit verlede jaar uit Superrugby gesit is.

Luidens ʼn verklaring verteenwoordig die Oostelike Provinsie-rugbyunie (OPRU) se voorsitter en ondervoorsitter, André Rademan en Bantwini Matika, en die voorsitter van die bond se finansiële komitee, Shaheed Patel, die OPRU in die direksie van SA Super Rugby (Pty) Ltd, wat 100% van SA Rugby se belang in die Southern Kings hou.

Mtobi Tyamzashe, Gugu Nxiweni en Mxolisi Nkula is as onverbonde direkteure verkies, en Charl Crous, die hoofbedryfsbeampte van die Kings, is die sewende direksielid.

Rademan is tot voorsitter en Tyamzashe tot ondervoorsitter verkies.

Die direksie vervang die uitvoerende raad van Saru en sy hoof- uitvoerende beampte, Jurie Roux, wat sedert November 2015 na die Kings se sake omgesien het.

Saru se toesig oor die OPRU se geldsake duur voorlopig voort, en eers met die opheffing daarvan sal die bond se stemreg in Saru se hoofraad herstel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.