Soweto Rugbyunie laat De Klerk kopkrap

logo-lionsAansprake dat dit noodsaaklik was om die Soweto Rugbyunie (SRU) te stig omdat daar nie vir swart spelers voorsiening gemaak word nie, is deur die Goue Leeus Rugbyunie verwerp.

Die SRU se sekretaris, Zola Ntlokoma, het aan Rugby365 gesê swart gesigte word gebruik om die land se “aanstootlike en valse geskiedenis” te wettig. Hy het ook gekla dat die “massas” weerhou word van rugby omdat dit op `n betaalkanaal uitgesaai word.

Die Soweto Rugbyunie is in September 2014 geregistreer. Die SRU en die Soweto Rugbyklub (SRK) is afsonderlike eenhede. Ntlokoma het gesê die klub breek nie weg van die GLRU nie en sal steeds binne die Goue Leeus se strukture speel.

Kevin de Klerk, president van die GLRU, het Ntlokoma se aansprake verwerp. “Ek het oor die afgelope ses jaar telkens met hom vergader, maar weet steeds nie wat hy wil bereik nie.”

Hy het gesê die SRU is nie `n unie sonder winsbejag nie en voldoen nie aan die vereistes van die GLRU, Saru of Wêreldrugby se grondwette nie.

“Daar is vereistes betreffende jou velde, afrigters en spelers. Dan is daar ook die veiligheidsaspekte soos die Boksmart-program. Sal hierdie mense behoorlik opgelei word om `n unie te bestuur?”

De Klerk wil dit ook baie onomwonde stel dat die GLRU nie teen enige vorm van transformasie gekant is nie.

“As iemand met `n werkbare plan kom, sal ons dit ondersteun. Daar is verskeie programme in Soweto wat deur ons en Saru gelewer word. Hulle (die SRU/SRK) is nie die enigste rugby-entiteit in Soweto nie – die GLRU het baie klubs sowel as skole daar waar daar met projekte voortgegaan word. Dis alles in lyn met Saru se vereiste van 50-50-verteenwoordiging in 2019.”

Hy het erken daar is nog baie werk wat vir swart rugby gedoen moet word en sê die Goue Leeus en Saru probeer die geld kry om daardie doelwitte te bereik.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hanno Visagie ·

“Dis alles in lyn met Saru se vereiste van 50-50-verteenwoordiging in 2019.” – So GLRU en Kevin de Klerk steun die rassistiese ANC-SARU kwotas. Dit moet teengestaan word!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.