Spanje kies SA speler vir November-toetse

Spanje het ʼn speler uit Suid-Afrika in sy groep vir die eerskomende November-toetse teen Namibië en Samoa ingesluit.

Die veelsydige agterspeler Richard Stewart is een van 12 spelers sonder toetservaring in die groep van 39.

Hy is as buitesenter gekies.

Stewart het van 2012 tot 2014 vir die Ikeys in die reeks om die Varsitybeker gespeel, en vier drieë in laasgenoemde jaar gedruk, toe die Kaapse studente die beker gewen het.

ʼn Gebore en getoë Kapenaar, het hy die Western Province Preparatory School (WPPS) bygewoon, voor hy aan Bishops Diocesan College gematrikuleer het.

Stewart speel sedert Augustus 2015 in Spanje, eers by die klub Independiente en later by Cisneros.

Hy is een van ʼn toenemende getal Suid-Afrikaners – soos JW Bell, Christian Rust, Juandré Kleynhans, Andrew Norton en Marco Mason – wat hul stempel in Spaanse rugby afdruk.

♦ Die toetse teen Namibië en Samoa, albei deelnemers aan aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi (WB) in Japan, vind op 19 en 24 November in Madrid plaas.

Die Spaanse Leeus hoop om met ʼn sege oor Namibië hulle tussen die voorste 20 lande op die wêreldranglys te vestig. Hulle is reeds 20ste en Namibië 22ste.

Spanje het sy kans om in die WB-toernooi te speel, beduiwel in verlede jaar se debakel toe van sy spelers ʼn skeidsregter te lyf gegaan het, en hy op die koop toe met onwettige spelers aan die reeks om die Rugby Europa-beker deelgeneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.