Spanne gooi rugbyhandboek in Durban weg

Harold Verster klop Arthur Bonneval hoekvlag toe vir een van sy twee drieë. (Foto: GB Jordaan)

Rugby hoef nie altyd volgens die handleiding gespeel te word nie, soos die kragmeting tussen Suid-Afrika A en die Franse Barbarians Vrydag in Durban getuig het.

Die Suid-Afrikaners het met 36-28 gewen, nadat hulle rustyd met 22-21 voor was.

Die wedstryd in die Moses Mabhida-stadion in Durban was geensins ʼn vertoonvenster van hoe die spel gespeel behoort te word nie, maar dit is juis wat rugby só spesiaal maak.

Albei spanne het konserwatisme in hul onderskeie kleedkamers gelos, en daarmee saam die struktuur wat hanteerfoute tot die minimum beperk.

Dankie, daarvoor.

Die gevolg was dat al twee spanne se verdediging met tye hopeloos gelyk het. Daar is tien drieë gedruk – ses deur die Suid-Afrikaners en vier deur die Franse – met die tuisspan wat reeds in die eerste helfte vir vier gesorg het.

Wat spelers betref, was die losskakels, Lionel Cronjé en Frédéric Michalak, kookwater.

Cronjé het vir dié kragemeting se beste drie gesorg toe hy ʼn verbroude lynstaan in ʼn skouspelagtige vyf punte omskep het. Hoewel hy nie self gedruk het nie, het hy alles en nog meer gedoen voor hy vir Sikumbuzo Notshe oorgestuur het.

Makozole Mapimpi druk `n drie vir Suid-Afrika A. (Foto: GB Jordaan)

Die 34-jarige Michalack het die klok terug gedraai, en elke truuk in sy towersakkie uitgehaal om sy teenstanders te oë te verblind. Was dit nou nie ʼn fees om sy oomblikke van briljantheid te aanskou nie.

Hoe minder egter oor die Franse se lynstane gesê word, hoe beter.

Die flank Ruan Ackerman is ʼn tree nader nader aan ʼn volwaardige Bok-trui, en sy naamgenoot Combrinck móés môre een van die vleuels teen die Hane gewees het.

Daarbenewens het Harold Vorster en Lwazi Mvovo elkeen twee keer agter die doellyn gaan kuier in die heel eerste rugbywedstryd in dié stadion.

Die laaste en bepalende wedstryd in die reeks word 23 Junie in Orlando, Soweto, gespeel.

Die puntemakers –

Suid-Afrika A 36 (22) – Drieë: Lwazi Mvovo (2), Makazole Mapimpi, Sikumbuzo Notshe, Harold Vorster (2). Doelskoppe Lionel Cronjé (2), Fred Zeilinga.

Franse Baa-baas 28 (21) – Drieë: Yann Lesgourgue, Frédéric Michalak, Anthony Belleau (2). Doelskoppe: Michalak (4).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.