Spanning laai op in SA rugby oor geld

Spanning is oënskynlik aan die oplaai in Suid-Afrikaanse rugby oor die SA Rugbyunie (Saru) se besluit om die kleiner bonde se geldelike toekenning vir 2018 met meer as die helfte te besnoei.

Die bonde Boland, Grens, die Griffons, die Luiperds en die Valke het vroeër te kenne gegee dat hulle regstappe sal doen om te keer dat Saru hul jaarlikse toelaag só drasties inkort.

In die sosiale media is vandeesweek berig dat samesprekings tussen die partye einde verlede week op ʼn dooie punt uitgeloop het, maar die betrokkenes swyg soos die graf daaroor.

ʼn SA Rugby-woordvoerder het Pale Toe! meegedeel die liggaam gaan nie opdie “kwessie”, soos hy daarna verwys het, kommentaar lewer nie.

Die Griffons het Pale Toe! na die bond se prokureur verwys, maar hy het teen plasingstyd nog nie gereageer nie.

Boland en die Valke het die navraag na hul presidente verwys, maar daar is intussen ook nie weer van hulle verneem nie.

Luidens vroeëre berigte meen die beswaarde bonde die Saru-begroting wat hul toelaes halveer, is ongrondwetlik omdat die goedgekeurde 2016/20-finansieringsmodel, in weerwil van ʼn bepaling in die grondwet, nie in ag geneem is nie.

Saru het in Maart vanjaar aangekondig dat hy ʼn verlies van oor die R33 miljoen in die 2017-boekjaar gely het, en die beoogde besnoeiing spruit klaarblyklik hieruit voort.

Artikel 24 van Saru se grondwet voorsien vir ʼn proses van onderhandeling, bemiddeling en uiteindelik arbitrasie in geval van ʼn geskil tussen die unie en sy lede. Dit sluit egter nie regstappe uit nie.

Watter weg die strydende partye ook al kies om te bewandel, die tyd is min voor vanjaar se Eerste Liga afskop. Die hoofreeks begin al oor twee weke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Henry ·

Hehe ai saru maar ek is seker jul sal dan so suksesvol wees met al jul sokker ondersteuners en die kwotas wat jul af forseer… nou hoe dan nou dat jul finansieel begin sukkel he?

Johan ·

SARU, dit is wat gebeur as die tradisionele groep rugby ondersteuners begin wegbly… Rugby is jare lank gebruik om ons te manipuleer, saam met die kwotastelsel het dit n kultuur geskep van “kanniewarrie” by rugby ondersteuners. Kry vir julle. Wêreldrugby was die groot verloorder toe Springbokrugby moes terugstaan vir kwota rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.