Specman en Vrystaat-agterlyn te goed vir die WP

Rosko Specman het sy gehalte by die Blitsbokke Sondag ook vir die Vrystaat uitgestal. (Foto Facebook Timeline Jnr Boks)

Die Vrystaat Cheetahs het Sondag hulle tweede wedstryd in die Curriebekerreeks ook gewen en is daarmee die vroeë voorloper op die punteleer.

Die Curriebekerkampioen het die Westelike Provinsie in Bloemfontein oortuigend met 30-17 geklop nadat hulle rustyd 18-10 voor was.

Twee van die Vrystaat se vier drieë is in elke helfte gedruk terwyl die WP tot een in elke helfte beperk is.

Die Vrystaat het hulle gewone opwindende rugby gespeel, en die Blitsbokke se angel in die die afgelope sewesreeks  van Wêreldrugby, Rosko Specman, was skitterend. Hy was met sy aanvoeling, vaart en systappe die middelpunt van talle aanvallende bewegings waarteen die WP net nie bestand was nie.

Twee van die Vrystaat se drieë is deur hulle twee vleuel-aanwinste, Specman en Makazole Mapimpi, gedruk en die ander twee deur die senters William Small-Smith en Francois Venter.

Die WP se tweede drie agt minute voor die einde deur Stephan de Witt het hulle telling meer aansien gegee nadat hulle in die laaste kwart hard probeer terugveg het. Hulle eerste drie is kort voor rustyd deur die skrumskakel Justin Philips gedruk.

Puntemakers –

Vrystaat Cheetahs (18) 30: Drieë: Rosko Specman, William Small-Smith, Francois Venter, Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Niel Marais 2. Strafdoele: Marais 2
Westelike Provinsie (10) 17: Drieë: Justin Philips, Steph de Wit. Doelskoppe: Kurt Coleman, Brandon Thompson. Strafdoel: Coleman.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.