Specman sluit Blitsbokke se reeks op wennoot af met skitterdrie

Die Blitsbokke het die teleurstelling verwerk dat hulle in die kwarteind uitgeskakel is, en het die volgende twee wedstryde gewen om darem vyfde in Wêreldrugby se Londense toernooi  te eindig.

Eers het hulle Argentinië deeglik met 24-7 afgeslag en toe het  hulle in die ‘eindstryd’ om vyfde te eindig die moeilike Australiese span met 28-17 geklop.

Maar dit was hittete … Met die Blitsbokke net 21-17 voor, speeltyd feitlik verstreke en die Aussies wat die een vlaag aanvalle na die ander geloods het, wou dit lyk of ʼn derde neerlaag in ses wedstryde Suid-Afrika se voorland was.

Toe die sewes-Wallabies egter fout maak en die Bokke vyf meter van hulle doellyn ʼn skrum-ingooi kry, het Ruaan Nel onder groot druk en met geen ander keuse nie van sy doellyn af ʼn baie lang skop veld-af gestuur.

Rosco Specman, een van die reeks se grootste wedstryd wenners, het die bal gejaag, met sy groot vaart onder die teenstand uitgetrek en die gunstige spring van die bal in die kwartgebied, en daarmee ook die oorwinning, met ʼn boogduik onder die pale gevier..

♦ In die eindstryd het Skotland, wat teen die VSA in die halfeind gewen het, vir Engeland gehou en teen die einde gaan druk om met 10-7 te wen. Engeland het in 2009 laas op Twickenham gewen en van hul spelers was na die wedstryd letterlik in trane.

Engeland het hulle halfeind teen Kanada met 24-5 gewen.

♦ In die uitspeel om die bronsmedalje het Kanada na die einde se kant toe vir drie minute teen die VSA vasgebyt en onder geweldige aanvalsdruk net een drie afgestaan en met 22-19 gewen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.