Spelers onthou Lomu se goedhartigheid

Jonah Lomu op volle vaart in sy speeldae. Foto: Twitter.

Jonah Lomu het in 2005 sy buiging vir die Cardiff Blues gemaak en hoewel hy net tien wedstryde vir die Walliese klub gespeel het, het hy ’n blywende indruk op almal gemaak.

Dai Young, die destydse afrigter van die Blues, onthou hoe die klub se jonger spelers die All Blacks-ster amper verafgod het.

“Ons was almal uit die veld geslaan oor sy goedhartigheid en nederigheid; hy was immers een van die spel se supersterre. Wanneer ʼn mens rugbylegendes ontmoet, is hulle nie altyd die persone wat jy dink hulle is nie, maar Jonah het alle verwagtinge oortref,” het Young aan die Walliese pers gesê.

“Hy was hoegenaamd nie hoogmoedig nie, trouens hy was die nederigheid self. Die jonger ouens het na hom opgesien en hy het baie tyd saam met hulle deurgebring.”

In dié stadium van Lomu se loopbaan het hy die laaste van sy 73 toetse vir die All Blacks al twee jaar vantevore gespeel, terwyl die niersiekte – waaraan hy uiteindelik in 2015 dood is – reeds by hom gediagnoseer was.

“Hy het nooit oor sy persoonlike probleme gesels nie en hy was ongelooflik inspirerend.”

Young onthou veral een voorbeeld van Lomu se goedhartigheid.

“Van die jonger spelers – wat maar kleinerige kontrakte gehad het – se rugbystewels was al gaar gespeel. Jonah het elkeen se skoengrootte gevra en vir hul nuwe tokse gekry.”

Volgens Rhys Williams, Cardiff Blues-kaptein in die tydperk, was Lomu ’n frats. Nie net as ’n rugbyspeler nie, maar ook as ’n mens.

“Letterlik almal het van hom gehou en hy was só vrygewig. Sy lewe was heeltemal anders as dié van enige ander rugbyspeler. Hy was ’n reus van die spel, maar sy voete was vierkantig op die aarde geplant,” het Williams gesê.

“Toe Jonah in 2006 huiswaarts moes keer omdat hy sy enkel beseer het, het hy vir ons sy massiewe luidspreker agtergelaat om in die gimnasium te gebruik; ons het destyds net so ’n klein radiostelletjie gehad.”

Rhys en Young se woorde word deur Walliese ster Gareth Edwards beaam: “Hy was nie net ’n wonderlike speler nie, hy was ook ’n wonderlike mens.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.