Spelers praat van staak oor te veel rugby

Die moontlikheid van ʼn staking deur spelers uit protes teen te veel rugby het pas weer na vore getree nadat dit vyf maande gelede ook in die lug was.

Dit volg op Australiese rugbyspelers se dreigement om te staak as die land se Superrugby-spanne verminder word.

Die voorsitter van die Engelse Rugbyspelersvereniging (RPA), Christian Day, het pas weer daarop gesinspeel dat spelers kan staak tensy hul wedstrydlas verlig word.

Dit volg op die aanvaarding van ʼn wêreldwye rugbykalender en die beoogde verlenging van die Engelse seisoen.

Dié slot van Northampton en die Engelse Saxons (die land se naasbestes) het vyf maande gelede al soortgelyke geluide in die Britse media gemaak en dit nou herhaal.

Hy sê wat spelerswelsyn betref, is groot vordering met die jongste voorskrifte rakende harsingskudding gemaak, maar kwessies soos versekering, rustye en ʼn beperking op die getal wedstryde wat ʼn speler speel, is nog brandend.

Belaglikheid

♦ Die Aussies se staakdreigement is eintlik ʼn opperste belaglikheid.

Die land se gebrek aan spelers van Superrugby-gehalte is juis die rede vir die beoogde vermindering van Australiese spanne. Nou wil hulle staak omdat dié wat hoeka nie goed genoeg is nie sonder werk gaan sit.

Hoe op aarde rym dit? Waar kom gesonde verstand in die prentjie?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.