Spelers uit SA bly oog vang in VSA se geldreeks

Riekert Hattingh (Foto: Seattle Seawolves)

Spelers met Suid-Afrikaanse wortels bly die oog vang in die Amerikaanse beroepsreeks, die Senior Rugbyliga (MLR).

Hanco Germishuys (flank) en Zinzan Elan-Puttick (heelagter) was tussen die driedrukkers toe Austin Elite Vrydag met 31-5 teen San Diego Legion gewen het.

Germishuys het Griekwas by die o.13-Cravenweek verteenwoordig, en Elan-Puttick is ʼn produk van Grey Kollege, Bloemfontein.

Dis die sesde keer dat eersgenoemde, die voorste driedrukker in die reeks, agter die doellyn gaan kuier.

Ongelukkig het hy en sy flankmaat, Kyle Breytenbach, afkomstig uit Phalaborwa se wêreld, ook geel kaarte op die lyf geloop.

Elan-Puttick moes, na berig word, ver nael vir ʼn puik solodrie.

In die naweek se ander wedstryde het Utah Warriors met 36-30 teen die Houston Sabercats gewen; en die Seattle Seawolves het NOLA Gold (New Orleans) met 55-26 oorrompel om die voortou in die reeks te neem.

Riekert Hattingh, die Seawolves se agsteman en kaptein, het die afgelope week seker gemaak dat ʼn speler uit Suid-Afrika tot dusver nog elke week in die MLR se vyftiental van die week ingesluit is.

Dié gewese Blou Bul en die seun van die Springbok Drikus Hattingh, het veral met sy verdediging beïndruk met sy terugkeer ná ʼn aflegging kragtens die spel se harsingskuddingmaatreëls.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.