Spelers uit SA druk 7 keer in Euro-klubreekse

Spelers uit Suid-Afrika het sewe drieë in die eerste ronde van Europa se twee voorste klubreekse gedruk.

Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk het die meeste punte (tien) behaal toe hy met twee doelskoppe en twee strafdoele vir die Engelse klub Sale teen die Franse klub Toulouse geslaag het.

Die twee spanne het in die reeks om die Europese Uitdaagbeker met 20-20 gelykop gespeel.

In die reeks om die Europese Kampioenebeker het nog ʼn Bok, Ruan Pienaar, sewe punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir Montpellier (Frankryk) teen Leinster (Ierland) behaal.

Die Iere het met 24-17 gewen.

Die gewese Bolandse en deesdae Franse toetsflank Bernard le Roux, het as slot een van Racing 92 se drie drieë in sy sege van 22-18 oor Leicester (Engeland) gedruk.

In die kragmeting tussen die Engelse klubs Northampton en Saracens het die Bok-stut Vincent Koch ʼn drie vir Saracens gedruk.

Die gewese Westelike Provinsie-slot David Ribbans van Northampton, wat met 13-57 opgedreun is, het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Scott Spedding, ʼn gewese Sharks-speler wat vir Frankryk toetsrugby speel, het ʼn drie en ʼn strafdoel vir Clermont in sy sege van 26-21 oor die Ospreys (Wallis) behaal.

Die Blitsbok Robert Ebersohn het ʼn drie vir Castres (Frankryk) teen Munster (Ierland) gedruk voor hy ʼn geel kaart op die lyf geloop het.

Europese Uitdaagbeker

In die reeks om die Europese Uitdaagbeker het Bordeaux Bègles (Frankryk) se plaasvervanger-losskakel, die gewese Bulls-speler Tian Schoeman, drie doelskoppe vir sy span in dié se wegholoorwinning van 57-17 oor Enisey STM Krasnojarsk (Rusland) aangeteken.

Drieë vir Newport Gwent Gargons (Wallis) deur die plaasvervanger-slot Ligtoring Landman en die
plaasvervanger-regtervleuel Pat Howard kon nie keer dat Newcastle (Engeland) die stryd met 32-27 wen nie.

Landman het Superrugby vir die Lions en die Cheetahs gespeel; en Howard het SA o.20 en die Stormers verteenwoordig.

In die botsing tussen Cardiff Blues (Wallis) en Lyon (Frankryk) het die Blues-slot George Earle ʼn drie gedruk, terwyl die Lyon-slot Etienne Oosthuizen homself ʼn geel kaart op die hals gehaal het.

Die Walliese span het met 29-16 gewen.

Albei het Superrugby vir die Lions gespeel; Earle ook vir die Cheetahs, en Oosthuizen vir die Sharks.

Franse Pro D2-reeks

In die Franse Pro D2-reeks het Shaun Robinson (buitesenter) ʼn drie vir Bayonne teen Biarritz gedruk, en Willie du Plessis (losskakel) het ʼn strafdoel en ʼn skepdoel behaal.

Die teenstanders het egter met 30-24 gewen.

Robinson is ʼn gewese Superrugbyspeler van die Sharks; en Du Plessis het vir die Cheetahs uitgedraf.

Vir die slotte Berend Botha (Perpignan) en JC Astle (Mont de Marsan) het die reeks geel kaarte opgelewer, en hul spanne het verloor.

Botha, wat in 2008 ʼn lid was van die Opkomende Springbokspan wat die destydse Internasionale Rugbyraad se Nasiesbeker in Roemenië gewen het, se span het die onderspit met 18-38 teen Aurillac gedelf.

Astle, ʼn gewese Superrugbyspeler van die Kings, se span is deur Massy met 12-6 geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.