Spelers uit SA druk vir Amerika én Duitsland

Shaun Davies (Foto: PRO Rugby USA)

Spelers met Suid-Afrikaanse wortels het vir Amerika sowel as Duitsland drieë gedruk in dié twee lande se kragmeting Saterdag in Wiesbaden, Duitsland.

Soos verwag, het die beter geagte besoekers die wedstryd met 44-17 gewen, nadat die tuisspan teen rustyd met ʼn agterstand van slegs 10-13 deeglik in die prentjie was.

Shaun Davies (skrumskakel), wat in Durban gebore is en aan Westville Boys High gematrikuleer het, het in sy tiende toets een van Amerika se ses drieë gedruk.

Duitsland het die eerste punte op die telbord geplaas toe Ayron Schramm (agsteman), wat die Sharks-vyftiental verteenwoordig het, in die sewende minuut sy derde drie in twee toetse gedruk het.

Die Duitse binnesenter Raynor Parkinson, ʼn gewese UJ-losskakel, het dit verdoel en later met ʼn strafdoel geslaag.
Duitsland het ʼn minuut voor rustyd nog met 10-6 voorgeloop.

Winston Cameron-Dow (buitesenter), ʼn oudleerling van Durban High, het in die tweede helfte Duitsland se ander drie gedruk, en Parkinson het dit verdoel om sy bydrae op sewe te staan te bring.

ʼn Gewese kaptein van Valsbaai, Michael Poppmeier, het Duitsland aangevoer, met Dash Barber (haker, voorheen Valsbaai), Sebastian Ferreira (flank, voorheen Kings), Jaco Otto (flank, voorheen Sharks o.21), Marcel Coetzee (regtervleuel, voorheen Sharks o.19) en Marcel Henn (plaasvervanger-flank, voorheen NWU-Pukke) ook in die span.

JP Eloff, ʼn gebore Pretorianer en produk van die Hoër Tegniese Skool John Vorster in dié stad, het Amerika van die bank af verteenwoordig.

Die Arende is tot onlangs deur John Mitchell, die huidige rugbydirekteur van die Blou Bulle, afgerig. Dave Hewett, ʼn gewese stut van die Crusaders, is die tussentydse afrigter tot ʼn voormalige Springbok-hulpafrigter, Gary Gold, teen die middel van aanstaande jaar die leisels oorneem.

Duitsland word deur die oud-Tukkie Kobus Potgieter afgerig, wat deur nog ʼn Suid-Afrikaner, Pieter Jordaan, bygestaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.