Spelers uit SA kry byna ewe veel geles as drieë

Spelers met Suid-Afrikaanse bande het byna ewe veel geel kaarte in die jongste ronde van die voorste Franse en Engelse reekse gekry as wat hulle drieë gedruk het.

Sover vasgestel kon word, het hulle ses drieë gedruk, maar vyf geel kaarte op die lyf geloop.

♦ In die Franse Top14-liga het Rory Kockott (skrumskakel) twee doelskoppe en twee strafdoele – tien punte – vir Castres in sy oorwinning van 37-10 oor Pau aangeteken.

Robert Ebersohn (buitesenter) het ʼn drie vir die wenspan gedruk.

Kockott, ʼn Franse toetsspeler, het Superrugby vir die Sharks en die Lions gespeel; en Ebersohn het die Cheetahs op dié vlak verteenwoordig.

♦ Die Springbok Morné Steyn (losskakel) het al Stade Français se punte in sy nederlaag van 6-41 teen Lyon met ʼn straf- en ʼn skepdoel behaal.

Albertus Buckle (stut), wat Curriebeker-rugby vir Griekwas gespeel het, het een van die wenspan se drieë gedruk.

♦ Nico Janse van Rensburg (slot), voorheen van SA o. 20 en die Bulls, het ʼn drie vir Montpellier in sy nederlaag van 13-27 teen Racing 92 gedruk.

Franse Pro D2-liga

♦ ʼn Gewese lid van die Sharks-vyftiental in die Curriebeker-opstelronde, Tristan Tedder (losskakel), het tien punte vir Bayonne in sy sege van 25-14 oor Montauban in die Franse Pro D2-liga behaal.

Hy het ʼn drie gedruk, ʼn doelskop en ʼn strafdoel behaal; en die oud-Cheetahs-speler Willie du Plessis (banklosskakel) het met ʼn skepdoel vir die wenspan geslaag.

♦ Danré Gerber (buitesenter) het ʼn drie vir Mont de Marsan in sy sege van 38-10 oor Colomiers gedruk.

Hy het Curriebekerrugby vir Boland gespeel.

♦ Hansie Graaff, ʼn gewese Curriebeker-speler van die Griffons en Suidwestelike Distrikte (SWD), het albei Massy se drieë teen Carcasonne verdoel, maar laasgenoemde het die kragmeting met 22-14 gewen.

♦ Twee Suid-Afrikaners het geel kaarte op die lyf geloop in Aurillac se sege van 13-9 oor Bressane: AJ Coertzen (buitesenter) van die wenspan, en Willem Harmse (vaskopstut) van die verloorders.

Coertzen het Curriebeker-rugby vir Griekwas gespeel, en Harmse vir SWD.

♦ Steven Sykes is met ʼn geel kaart gestraf in sy span, Oyonnax, se sege van 29-12 oor Soyaux-Angoulême.

Hy het Superrugby vir die Sharks, die Kings en die Cheetahs gespeel.

Premierliga-rugbybeker

♦ Tim Swiel (banklosskakel), ʼn gewese SA Skole-speler wat Superrugby vir die Sharks gespeel het, het met ʼn strafdoel in die 71ste minuut verseker dat Newcastle sy ou klub, Harlequins, met 23-21 in die Engelse reeks om die Premierliga-rugbybeker klop.

Demetri Catrakilis (losskakel) het elf punte vir die verloorspan behaal. Hy het met ʼn doelskop en drie strafdoele geslaag.

Catrakilis het Superrugby vir die Stormers en die Kings gespeel.

♦ In Worcester se sege van 31-12 oor Leicester het die Bok Francois Hougaard (skrumskakel) ʼn drie vir die wenspan gedruk, maar sy spanmaat Anton Bresler (slot) is gestuur om te gaan afkoel.

Laasgenoemde het vir die Sharks Superrugby gespeel, en is ʼn slag in Skotland se nasionale oefengroep ingesluit.

♦ Nóg ʼn geel kaart het aan Exeter se Wilhelm van der Sluys (slot) gegaan, ʼn man wat die Westelike Provinsie in die reeks om die Curriebeker verteenwoordig het.

Exeter het sy kragmeting teen Bath met 25-18 gewen.

Pro14-liga

♦ Pierre Schoeman (loskopstut) se drie in die 57ste minuut het die Skotse superklub Edinburgh met 22-21 laat voorloop teen die Walliese streekspan Scarlets (Llanelli) om op die ou end die Pro14-botsing met 31-21 te wen.

Hy is ʼn gewese SA o. 20-speler, wat die Bulls-trui in Superrugby gedra het.

♦ Brandon Thomson (losskakel) het nege punte – drie doelskoppe en ʼn strafdoel – tot die Skotse superklub Glasgow Warriors se sege van 29-20 oor die Walliese streekspan Ospreys (Swansea) bygedra.

Hy het insgelyks SA o. 20 verteenwoordig, maar sy Superrugby vir die Stormers gespeel.

Hanno Dirksen (regtervleuel), ʼn seun van die Gasel-losskakel Hansie Dirksen, het een van laasgenoemde se drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.