Spelers waarsku rugbybase oor integriteit

Internasionale Rugbyspelers (IRP) waarsku Wêreldrugby (WR) op die spelersorganisasie se webwerf dat hy die rugbyleisels wêreldwyd stewiger moet vasvat om die spel se integriteit te beskerm.

IRP, voorheen die Internasionale Beroepspelersvereniging (IRPA), verteenwoordig die geldspelersverenigings van Suid-Afrika, Argentinië, Australië, Engeland, Frankryk, Ierland, Nieu-Seeland, Skotland en Wallis. Hy het sy hoofkwartier pas uit Auckland, Nieu-Seeland, na Dublin, Ierland verskuif, om nader aan WR te wees, wat in die Ierse hoofstad gebaseer is.

Sy oproep volg op die debakel in die Europese Wêreldbeker-aanspraakstryd toe Roemenië (na bewering met die hulp van ʼn Roemeense skeidsregter) ten koste van Spanje sy plek in die toernooi aanstaande jaar in Japan bespreek het.

WR het intussen ʼn noodondersoek na die kwessie van stapel laat loop, maar ʼn maand ná die gewraakte gebeure is daar nog geen uitsluitsel nie. Rugby Europa (RE), die verantwoordelike gewestelike beheerliggaam, se eie ondersoek het ook nie gevorder nie.

Dit het onder meer ook geblyk dat RE Spanje se beswaar oor die gebruik van Roemeense beamptes in sy deurslaggewende wedstryd teen België in die wind geslaan het.

Omar Hassanein, IRP se nuwe uitvoerende hoof, sê WR moet die bedrywighede van die streekliggame strenger kontroleer, veral waar deelname aan die Wêreldbeker (RWB) ter sprake kom.

“Spelers, veral op die tweede vlak, offer baie op in die nastrewing van hul RWB-drome en as die integriteit ondermyn word, sal dit die bestaande vertroue tussen spelers, administrateurs en ondersteuners erodeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Alf ·

WR is n klomp huigelaars. SARU wat n blatant rassistiese agenda het en hul eie, asook WR, se grondwette verbreek, word steeds toegelaat om sekere entniese groepe voor te trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.