Spelersbehoud, nuwe talent spoor Durbell aan

durbell-logo-square`n Gesonde behoud van spelers, aangevul deur opwindende nuwe talent, dien as aansporing vir Durbanville-Bellville, 2015 se Goue Bekerwenner, om sy teikens vir 2017 te bereik.

Darron Nagel, die klub se ondervoorsitter, sê harde werk is in die agtergrond verrig om alles gereed vir die nuwe seisoen te kry, en die hoofafrigter, Bobby Joubert, het `n puik taak verrig om meer as 90% van verlede jaar se spelers by die klub te hou. Op die koop toe het hy `n paar belowende nuwelinge betrek.

Joubert sê die seisoen begin Maandag 9 Januarie met `n voorseisoense program van sewe weke met die mikpunt om die Westelike Provinsie se Superliga A te wen en vir 2017 se reeks om die Goue Beker in aanmerking te kom.

`n Vol program vriendskaplike wedstryde is reeds beklink. Durbell begin 25 Februarie op Robertson teen dié Bolandse klub speel; 4 Maart durf hy die Victoriane (Maties) tuis aan; waar ook die Masibambane-uitdaging teen Brackenfell op 10 en 11 Maart beslis word.

Die wedstryd 18 Maart teen die heersende WP-kampioen en Goue Beker-finalis van 2016, Valsbaai, op Philip Herbsteinpark in Contstantia sal meer as die gewone belangstelling lok en kan `n vroeë aanduiding van dié twee topklubs se krag gee.

Geslaagde groepstelsel

Joubert het verlede jaar `n baie geslaagde groepstelsel van 45 spelers ingestel en sal vanjaar dieselfde benadering volg. Hy is vol vertroue dat dit die regte resep is en dat die span slaggereed sal wees wanneer die liga die eerste naweek van April begin.

Alle belangstellende spelers word na Maandag se oefening genooi. Dit begin 18:00 en daar word vir senior sowel as o.20-spanne voorsien.

Navrae – ook van die plaaslike gemeenskap of borge wat betrokke wil raak – kan aan Nagel by [email protected] gerig word.

durbell-terreinNagel laat weet Nicole Retief is as die eerste vrou in dié rol tot klubkaptein van die Durbies verkies, en dat sy, gegewe haar geesdrif en hartstog vir die spel, van krag tot krag in die bestuur sal gaan en haar rol met groot sukses sal beklee.

Hy sê die oorgang by die klub om die regte mense in die regte poste te plaas, ongeag ras of geslag, het natuurlik en met respek geskied.

Durbell het eweneens `n vennootskap met die House of Grace vir hawelose konders in Phesantekraal buite Durbanville gevorm. Benewens voedselhulp en geldinsameling sal die kinders by die klub se ontwikkelingsvleuel, die Masibambane-sportstigting, betrek word.

Die Durbies se jaarlikse potjiekoswedstryd vind Saterdag 11 Februarie by die klub plaas, en die publiek is welkom om deel te neem. Daar sal volop pret wees en inskryfgeld bedra R250 vir `n span van ses. Daar kan ook in dié opsig met Nagel geskakel word.

Die klubkroeg heropen insgelyks Maandag saam met die eerste oefening, en Nagel nooi lede van die omliggende gemeenskap uit om saam te gaan kuier.

Durbell het twee geleentheidslokale wat die publiek kan huur. Daar kan met die klub by [email protected] of Marika Coetzee by [email protected] hieroor geskakel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.