Spoed, hier is spoed, soos Gerhard Viviers dit destyds gestel het

Bryan Habana. Argieffoto.

Enige rugbyspeler se grootste bate is sy vaart.

Dink maar terug aan Bryan Habana, want hoeveel van sy 67 toetsdrieë in 124 toetswedstryde het hy nie met sy blote vaart gedruk nie?

Habana, wat volgens die rekordboeke 905 punte in sy loopbaan van 362 wedstryde aangeteken het, is heel waarskynlik die beste linkervleuel wat nog vir die Springbokke gespeel het.

Hy was altyd gevaarlik, of hy nou ook al vir die Springbokke, Superrugby vir die Bulls, Lions of Stormers of vir die Curriebekerspanne van die Leeus, Blou Bulle of Westelike Provinsie of selfs vir Toulon in Frankryk gespeel het.

Ek weet van net een geleentheid waar ʼn speler sy hakskene vir Habana gewys het, toe die Amerikaner Takudzwa Ngwenya (sy van beteken nie verniet “krokodil” in Afrikaans nie), dit in 2007 tydens die Wêreldbekertoernooi in Frankryk reggekry het toe die Bokke teen Amerika gespeel het.

Die ander keer was toe ʼn regte cheetah vir Habana weggehol het by die De Wildt-navorsingsentrum ten bate van wildbewaring.

Dink ook maar terug toe Jaco Reinach sy drie in 1986 teen die Nieu-Seelandse Kavaliers gedruk het. Die oudkommentator Gerhard Viviers se woorde was: “Spoed, hier is spoed.”

Wie sal dit ooit kan vergeet?

Wat van Pierre Spies se drie in 1975 van die Curriebeker-eindstryd tussen die Blou Bulle en die Vrystaat in Bloemfontein?

Wel, die Springbokkeurders het nog altyd, en met reg, spelers met vaart gekies, veral nadat die Bokke die Britse Leeus in 1955 van hul voete af gehol het.

So ook vir die toer van 1956 na Nieu-Seeland.

In die span was Tom van Vollenhoven, wat die destydse 100 tree in 9.7 sekondes kon aflê.

Daar was Daan Retief, wat sy loopbaan as vleuel by Noord-Transvaal begin het voordat hy in nege toetse vir die Bokke vier keer as agtsteman en vyf keer as flank gekies is.

Daar was ook Dawie Ackerman, wat naas Van Vollenhoven die tweede vinnigste in die span was.

Ackerman het in agt toetse flank gespeel.

Dan was daar ook die slot Chris de Nysschen, wat die 100 tree glo in 10 sekondes kon aflê.

Maar ai, toe reën dit vir byna twee maande in Nieu-Seeland en die veld was swaar en modderig …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.