Spring, Bokkie, spring

Gawie Carelse wat in 1964 sy debuut as Springbok gemaak het met die onwelkome Bokkie op die trui

Gawie Carelse wat in 1964 sy debuut as Springbok gemaak het met die onwelkome Bokkie op die trui

Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het Vrydagoggend die nuwe All Black-trui bekend gestel en ek wonder hoe lank dit sal duur voordat die Suid-Afrikaanse rugbybase in hul voetspore sal volg.

Dis ʼn algemene verskynsel (ook in ander sporte) dat die span se klerevervaardiger/borg hier skuins voor Kersfees of ʼn Wêreldbekertoernooi die nuwe, wetenskaplik-getoetste trui wat glo sterker, beter, ligter (en duursamer) as die vorige trui is, bekend stel.

Ek onthou nog hoe die Bokke kort voor die Wêreldbekertoernooi in 2003 met ʼn nuwe noupassende trui uitgerus is. Daar is beweer dat die truie die Bokke ʼn groot voorsprong sou gee, maar die telbord het nie saamgespeel nie.

Die truie kon glo alles doen, dit sou die agterspelers meer vaartbelyn maak, die stutte sou beter vashouplek kry en teenstanders sou sukkel om die Bokke plat te trek. Tydens die bekendstelling het een van die Bokke droogweg opgemerk: Kan hy têkkel?

Die Springbokembleem het ook deur die jare verander en was die afgelope 110 jaar gereeld in die spervuur. Dan spring hy die kant toe, dan daai kant toe, dan het hy ʼn bos proteas om, dan weer ʼn rugbybal, dan verskyn hy op die regterbors, dan op die linkerbors en met ʼn WB-toernooi skuif hy moue toe.

In 1963 het die Bokke ʼn toetsreeks van vier toetse teen John Thornett se Wallabies gespeel. Dit was een van daardie donker jare in Springbokrugby, want die Wallabies het die reeks van vier toetse met twee elk gedeel.

Hulle het die eerste span sedert die Britse span in 1896 geword wat twee toetse na mekaar in Suid-Afrika kon wen.

Die Bok-keurders het (soos gewoonlik) kwaai drooggemaak. Nadat die Bokke die eerste toets op Loftus met 14-3 gewen het,  het hulle vier veranderinge aangebring vir die tweede toets op Nuweland – en met 5-9 verloor. Toe raak hulle die kluts heeltemal kwyt en maak agt veranderinge vir die derde toets op Ellispark … en verloor met 9-11.

Abie Malan was kaptein in die eerste twee toetse en Avril Malan in die derde toets. Vir die vierde toets is daar sewe skuiwe gemaak en Abie Malan het weer die leisels geneem. Die Bokke het die eerste keer avontuurlike rugby gespeel en die toets met 22-6 gewen.

Wat die Bok-ondersteuners briesend gemaak het,  is dat daar met die springbokembleem gekarring is. Die springende bokkie met die lang lyf moes plek maak vir ene wat bokspring met ʼn rugbybal daaronder.

Hulle het hierde hele reeks, wat gedeel is, die 1964-toetse teen Wallis (gewen) en toe Frankryk (verloor) en die twee toetse op die kort toer van 1965 na Skotland en Ierland (albei verloor) met die verspotte Bokkie op die bal as wapen op die bors gespeel.

En vandag nog word daar gebrom as met die Bokkie gepeuter word …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.