Springbok-agtstemanne: Morné voor die Windhond en Thor in die tou

Morné du Plessis (Foto: Twitter)

Wanneer oor die beste Springbok-agtstemanne van alle tye gesels word, moet jy maar genoeg houtskool hê asook ’n paar ekstra biere, want dit kan ʼn lang aand word.

Want hoe dan anders gaan jy tussen Hennie Muller, Morné du Plessis, Duane Vermeulen, Basil Kenyon, Gary Teichmann, Tommy Bedford, Wynand Claassen, Jannie Breedt, Bob Skinstad en soveel ander legendes besluit?

Ironies genoeg was hulle almal Springbokkapteins en het almal baie diep spore getrap.

My oorlede pa het donkiejare gelede saam met Muller by die ou ERPM-klub in Boksburg gespeel. Hy het altyd met smaak vertel hoe die Windhond die hele agterlyn kon weghol, hoe hy ʼn agterlyn kon afmaai en nog genoeg stamina oorgehad het om na die tyd nog moordende fiksheidsoefeninge te doen wanneer almal reeds poegaai was.

Muller het in net 13 toetse gespeel en het in 1951-’52 die leisels by Basil Kenyon op toer in die Britse Eilande as kaptein oorgeneem toe Kenyon ʼn oogbesering opgedoen het.

Muller het die Bokke in nege toetse aangevoer en het net een keer, teen die Wallabies in 1953, verloor.

Later in die sestigerjare het hy die Springbokspan afgerig.

Hy is op 55-jarige ouderdom oorlede en een van sy seuns, Steven, is in 2016 tragies in Brackenfell vermoor. Sy dogter, Melanie, het vir die Springbokhokkiespan gespeel en is ʼn gesiene afrigter.

* Dok Danie Craven het altyd gesê sport is in die gene.

Hy het sekerlik na Du Plessis verwys wie se pa, Felix, die Springbokkaptein in 1949 teen die All Blacks was en sy ma, Pat (Smethurst), die SA hokkiekaptein was.

Ek het Morné die eerste keer gesien speel toe ek (en hy) nog op skool was. Affies het teen Grey-kollege gespeel en Morné was die dag ʼn langbeenheelagter met veilige hande en ʼn kanonskop.

Grey het Affies (wat geen hierjy-span was nie) vermorsel en Du Plessis het saam Nelson Babrow (sy pa Louis, was ook ʼn Springbok) en Dawie Snyman amok gesaai.

Morné was ook ʼn kranige snelbouler op Maties en het vir die SA Universiteitespan en die Westelike Provinsie gespeel. Maar toe Barry Richards een oggend net voor ete twee sesse van sy boulwerk af gemoker het, het hy besluit basta met krieket.

Dis toe waar Dok Craven hom by Maties in ʼn wêreldbreker gebrei het.

Op Loftus was hy nie altyd gewild nie, veral nie nadat hy Naas Botha geplettervat het in ʼn Curriebekerwedstryd nie. Maar as Springbokkaptein en bestuurder van die Wêreldbeker-wenspan van 1995, het hy alle kritici stil gemaak.

Duane Vermeulen (Twitter @duane_vermeulen)

* Vermeulen se bynaam is nie verniet Thor, die hamerdraende Noorse god, nie. Die bynaam is gepas vir een van die hardste manne in wêreldrugby, wat altyd sy lyf op die spel plaas. Hoeveel keer het hy in 54 toetse en 209 wedstryde vir die Pumas, Vrystaat en Cheetahs, WP en Stormers, Toulon, Blou Bulle en Kubota Spears swak gespeel?

Maar die kole op die vuurtjie is byna uitgebrand met Teichmann, Bedford en Skinstad-hulle wat maar vir iemand anders moet wag.

* So weeg my gunstelinge op (in orde van belangrikheid):

Morné du Plessis: 22 toetse tussen 1971 en ’89; wenpersentasie van 86,66%; Springbok-wenkaptein in 13 van 15 toetse; lid van die IRB se Heldesaal.

Hennie Muller: 13 toetse tussen 1949 en ’53; Springbok-wenkaptein in agt van nege toetse (88,8%), 16 punte (3 drieë, 1 strafdoel en 2 doelskoppe); lid van die IRB-heldesaal.

Duane Vermeulen: 54 toetse tussen 2012 tot op hede; een toets as Bokkaptein; speler van die wedstryd in die Wêreldbekereindstryd in 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Schalk

Die Windhond het geen gelyke nie. Het die doodsvrees in opposisie ingeboesem met sy ongelooflike spoed en plettervatte. Hy was vreesloos en sou sterf met daai bok trui oor sy skouers. Tweede of derde beste, wie gee om ?

Michael 1

Ek stem saam Morné was goed en Duane is ook goed maar hulle het in verskillende tye gespeel en die reëls het so verander dat Morné miskien in vandag se rugby miskien nie eers span sou kry nie en andersom met Duane,Francois Pienaar was uitstekend die kere wat hy nr 8 gespeel het,Andre Vos het ook baie beindruk in die laat 80 s