Springbok beklink wedstryd in Franse Top14

ʼn Springbok het Sondag seker gemaak dat Montpellier Hérault sy kragmeting teen Clermont Auvergne in die Franse Top14-liga met 30-29 wen.

Ruan Pienaar (skrumskakel) het die seël op sy span se sege geplaas toe hy in die 78ste minuut met die deurslaggewende doelskop geslaag het.

Hy het op die koop toe die helfte van die wenspan se punte met drie doelskoppe en drie strafdoele bygedra.

Johann Sadie (buitesenter), wat Superrugby vir die Stormers, die Bulls en die Cheetahs gespeel het, het albei Agen se drieë teen Lyon gedruk.

Laasgenoemde het Agen egter met 71-17 oorrompel.

Bjorn Basson en Juandré Kruger is nog twee Bokke wat in die reeks agter die doellyn gaan kuier het.

Basson (heelagter) het ʼn drie tot Oyonnax se nederlaag van 15-37 teen Toulouse bygedra; en Kruger (slot) een tot Toulon se sege van 36-13 oor Bordeaux Bègles.

Tian Schoeman (plaasvervanger-heelagter), wat Superrugby vir die Bulls gespeel het, het `n doelskop vir Bordeaux behaal.

Anglo-Walliese Beker

In die reeks om die Anglo-Walliese Beker was drie doelskoppe deur die Bok Zane Kirchner, wat losskakel gespeel het, ses punte vir die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons werd in sy nederlaag van 21-40 teen die Engelse klub Saracens.

Die Engelse klubs en Walliese streekspanne speel om dié beker wanneer die November-toetse en die Sesnasiesreeks beslis word.

Nóg ʼn Bok, Piet van Zyl (plaasvervager-skrumskakel), het ʼn drie vir London Irish gedruk in sy wegholsege van 66-7 oor Wasps.

In Worcester se sege van 31-21 oor Exeter het Shaun Malton (plaasvervanger-haker) ʼn drie vir die verloorspan gedruk; en sy spanmaat Wilhelm van der Sluys (plaasvervanger-slot) het ʼn geel kaart op die lyf geloop.

Malton is ʼn gewese SA Skole-speler, wat Vodacombekerrugby vir die Sharks-vyftiental gespeel het; en Van der Sluys het in dieselfde reeks vir die Westelike Provinsie uitgedraf.

Die Bok Faf de Klerk (skrumskakel) het ʼn doelskop vir Sale in sy nederlaag van 20-24 teen Northampton behaal.

Engelse Kampioenskap

In die Engelse Kampioenskap (tweedevlak-beroepsliga) het die Suid-Afrikaans-gebore Luke Daniels (regtervleuel) agt punte met ʼn doelskop en twee strafdoele vir Ealing Trailfinders in sy sege van 25-3 oor London Scottish behaal.

Franse Pro D2-reeks

In die Franse Pro D2-reeks het Burton Francis (losskakel), wat Superrugby vir die meeste Suid-Afrikaanse franchise’e gespeel het, sewe punte met twee doelskoppe en ʼn strafdoel vir Grenoble teen Perpignan behaal.

Laasgenoemde het die wedstryd met 24-17 gewen.

Aidon Davis (plaasvervanger-flank) het ʼn drie vir Bayonne teen Vannes 14 gedruk (Bayonne wen met 34-14); en Mzwanele Zito (slot) vir Carcasonne teen Soyaux Angouleme (Carcasonne wen met 24-13).

Albei het Superrugby vir die Kings gespeel. Davis het ook SA o.20 en Zito SA o.19 verteenwoordig.

Danré Gerber (binnesenter) het ʼn strafdoel vir Mont de Marsan in sy nederlaag van 18-28 teen Beziers aangeteken.

Hy het Curriebekerrugby vir die Boland gespeel, en is die seun van die Bok-legende Danie Gerber.

Italiaanse Super 10-reeks

Carl Greeff (agsteman), wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het ʼn drie vir I Medicei teen San Dona in die Italiaanse Super 10-reeks gedruk; en die Blitsbok Stef Basson het ʼn skepdoel vir dié span behaal.

San Dona het egter die kragmeting met 17-13 gewen.

In nóg ʼn wedstryd in dié reeks is Armand du Preez, ʼn slot van Reggio en seun van die Junior Springbok met dieselfde naam, teen Calvisano met ʼn geel kaart gestraf.

Calvisano, die huidige Italiaanse kampioen, het met 20-16 gewen.

Du Preez jr het Vodacombekerrugby vir die Vrystaatse Vyftiental gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.