Springbok-driekuns vir Jake se Japanse span

ʼn Springbok het Saterdag drie drieë vir die gewese Bok-afrigter se nuwe Japanse span gedruk, en Suid-Afrikaners het 30 van die span se 50 punte aangeteken.

Toyota Verblitz het Kubota Spears in die proses met 50-40 verslaan.

Gio Aplon het ʼn driekuns vir die wenspan behaal, en die gewese Bulls-slot Jason Jenkins het eweneens agter die doellyn gaan kuier.

Lionel Cronjé, wat Superrugby vir die Stormers, die Sharks en die Kings gespeel het, het met vyf doelskoppe geslaag.

Kotaro Matsoesjima, Suntory Sungoliath se Pretoriaans-gebore Japanse toetsspeler, het ʼn drie vir sy span in dié se sege van 69-7 oor NTT Docomo Red Hurricanes gedruk

Jurgen Visser, ʼn gewese losskakel van die Bulls en die Kings, het die verloorspan se enkele drie verdoel.

Australië

Spelers met Suid-Afrikaanse wortels het 20 punte bygedra tot Perth Spirit se sege van 62-28 Sondag oor Brisbane City in die Australiese Nasionale Rugbykampioenskap.

Die Springbok-losskakel Peter Grant het met vyf doelskoppe tien punte op die telbord geplaas, en James Verity-Amm en Mees Erasmus het elk ʼn drie gedruk.

Die 23-jarige Verity-Amm (vleuel) het vir die WP o-21-rugby gespeel, en die 22-jarige Erasmus (stut) het die Sharks in die destydse reeks om die Vodacombeker verteenwoordig.

ʼn Goeie toekoms in Superrugby word vir albei voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.