Springbok druk twee keer vir Ierse span

Jaco Taute (Foto: Munster Rugby)

Jaco Taute (Foto: Munster Rugby)

Twee drieë deur `n Springboksenter het die Ierse provinsie Munster Vrydag gehelp om die Walliese streekspan Newport Gwent Dragons (NGD) 45-17 af te ransel.

Die kragmeting op Musgrave Park, Cork, was in die Europese Pro 12-reeks.

Jaco Taute, wat Suid-Afrika in 2012 in drie toetse verteenwoordig het, se loopbaan het in die jongste tyd by Munster nuwe stukrag gekry.

Die soort rugby wat hy luidens berigte uit Ierland op senter speel, laat `n mens nogal wonder waarom die 25-jarige Taute deur die Stormers as heelagter vir die aanstaande Superrugbyreeks gelys word.

Is dit dan nie juis in die middelveld waar die Kaapse franchise – en Suid-Afrika – vonk nodig het nie?

Carl Meyer, NGD se heelagter wat in Pietermaritzburg gebore is, is met `n geel kaart gestraf toe die TV-skeidsregter beslis het hy het `n bal moedswillig aangeslaan. Die oortreding het boonop tot `n strafdrie vir Munster gelei.

Louis Ludik (Foto: Ulster Rugby)

Louis Ludik (Foto: Ulster Rugby)

 In nog `n wedstryd in dié reeks het Louis Ludik (heelagter), `n gewese Superrugbyspeler van die Lions en die Sharks, `n drie vir die Ierse provinsie Ulster teen die Skotse superklub Edinburgh gedruk.

Ulster het die wedstryd op Kingspan, Belfast, 24-18 gewen.

Franse Pro D2-liga

 Danré Gerber, `n gewese Bolandse senter en seun van die Springbok Danie Gerber, het `n ronde dosyn punte vir Mont de Marsan in die Franse Pro D2-liga op die telbord geplaas.

Hy het `n drie gedruk, en twee doelskoppe en `n strafdoel teen Carcassonne behaal.

Dit was net-net nie goed genoeg nie om te keer dat die tuisspan die botsing in die Albert Domec-stadion in Carcasonne 25-22 wen.

Engelse Premierliga

In die Engelse Premierliga het Tim Swiel `n doelskop en `n strafdoel (vyf punte) vir die Londense klub Harlequinns in sy wegholsege van 42-8 oor Bristol op laasgenoemde se tuisveld, Ashton Gate, aangeteken.

Die 23-jarige Swiel, `n gewese SA Skolespeler, het die Sharks in Superrugby verteenwoordig

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.