Springbok en Vrystaatse legende sterf

Sakkie van Zyl in die Junior Springboktrui. (Foto: Bidorbuy)

Baie Vrystaters sal jou vertel hy was naas generaal Christiaan de Wet die grootste legende wat die Vrystaat opgelewer het, presidente en staatspresidente ingesluit.

Die Springbokstut Sakkie van Zyl, wat Vrydag op 85 oorlede is nadat hy lank met sy gesondheid gesukkel het, het weliswaar net in vier toetse gespeel, maar het die Vrystaat 121 keer verteenwoordig – een van die eerste Suid-Afrikaners om in 100 of meer provinsiale wedstryde te speel.

Hy is op Dealesville gebore en was in murg en been ʼn Vrystater.

Van Zyl het ook vir die Junior Springbokke (toe dit nog die beste span uit spelers sonder Bok-kleure was) en die Sentrale Universiteite gespeel.

Min spelers moes só lank en só hard aan die Bok-deur klop as juis Van Zyl. Hy het in 1960 al in die hoofwedstryd van albei Springbokproewe gespeel, maar sy kans het eers op die toer van 1965 na Australië en Nieu-Seeland gekom, toe hy in al vier toetse teen die All Blacks gespeel het.

Dié sterk stut was rateltaai en met ʼn besonderse uithouvermoë was hy ook veral bekend as ʼn minsame en nederige mens.

Hy het eweneens groot roem as afrigter verwerf.

Hy was eers hulpafrigter (saam met Nelie Smith) en toe hoofafrigter (saam met Nic Bojé) van die Vrystaatse span wat tussen 1973 en 1981 met skouspelagtige hardlooprugby ses keer in nege jaar die eindstryd om die Curriebeker bereik het, en die gesogte beker in 1976 die eerste keer gebuit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daniez ·

Vrystaat!!!!
Hom goed geken, was saam op Kovsies en het ook n rukkie saam skool gehou!!!
Seker die laaste rugbyspeler wat kon dribble!!!
Rus sag ou Grote!!!!

Pieter ·

Joe Hall, waarvan praat jy? Lees asb die berig behoorlik, voordat jy opmerkings maak. Niemand beweer hy was ‘n SA-legende nie, alhoewel hy dit sou verdien (blykbaar weet jy dit nie). Die opskrif verwys bloot na “Springbok en Vrystaatse legende…”, nie “Springbok- en Vrystaatse legende…” nie. Ons eer sy nagedagtenis en dink aan sy naasbestaandes…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.