Springbok lei vlaag Franse geelkaarte in

Marcel van der Merwe – geelkaart. (Foto: Toulon Rugby)

In ʼn ietwat ruwe naweek in die Franse Top14-liga het ʼn Springbok-stut en sy teenstander in die botsing tussen Toulon en Brive ʼn vlaag geelkaarte ingelei, wat binne agt minute vyf opgelewer het.

Marcel van der Merwe, Toulon se vaskop, en Karlen Asieshvili, Brive se loskop en ʼn Georgiese toetsstut, se meningsverskille in die skrums het daartoe gelei dat hulle in die 32ste minuut gestuur is om te gaan afkoel.

’n Bykomende drie geles binne die bestek van agt minute het Brive tot 11 man uitgedun.

Toulon, wat laat in die tweede helfte nóg ʼn geelkaart op die lyf geloop het, het die wedstryd met 41-25 gewen.

Nóg ʼn wedstryd in dié reeks het drie rooi- en twee geelkaarte opgelewer.

Racing 92 (twee rooi, een geel), wat ná 30 minute al met 14 spelers moes klaarkom, het teen die laaste minuut nog net 12 man op die veld gehad, maar het Bordeaux Bègles (een rooi, een geel) met 29-13 geklop.

Die stut van Stade Français, Gurthro Steenkamp, is die tweede van drie Bokke aan wie geelkaarte in die jongste ronde van die reeks gewys is.
Stade het sy wedstryd teen Clermont Auvergne met 10-33 verloor.

Die Bokke Charl McLeod (drie) en Morné Steyn (strafdoel) het agt van die verloorspan se punte behaal.

Cheslin Kolbe, Toulouse se regtervleuel, is die ander Bok wat hom ʼn geelkaart op die hals gehaal het in ʼn kragmeting wat La Rochelle met 37-21 gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.