Springbok se gewese span kelder Loffie se Huns

ʼn Amerikaanse span wat tot verlede jaar deur ʼn Springbok afgerig is, het Saterdag met Eugene (Loffie) Eloff se Austin Huns in dié land se Senior Rugbykampioenskap (SRK) afgereken.

Die Glendale Raptors van Denver, Colorado, het met 45-15 teen die Huns gewen, nadat hulle rustyd slegs 10-8 voorgeloop het.

Die Springboksenter André Snyman het tot einde verlede seisoen die Raptors afgerig, en hulle het die afgelope twee jaar onder sy hand die Stille Oseaan-premierliga gewen.

Saterdag se Raptors-span het twee Amerikaanse toetsspelers wat in Suid-Afrika gebore is ingesluit: die skrumskakel Shaun Davies (Durban) en die senter Chad London (Johannesburg).

Niku Kruger, die seun van die akteur Ben Kruger en eweneens ʼn Amerikaanse Arend, is een van die span se hulpafrigters. Hy het o.19-rugby vir die Pumas gespeel.

Sowel die Huns se span as die afrigtingspan is deurspek van spelers met Suid-Afrikanse wortels.

♦ Die SRK dien as `n proeflopie vir die totstandkoming van ʼn nuwe Amerikaanse beroepsliga onafhanklik van verlede jaar s’n, wat lyk of dit (ongeag ontkennings) in die slag gebly het.

Behalwe die Raptors en die Huns is die aanduiding dat die Chicago Lions, Dallas Griffins, Houston Strikers, Kansas City Blues, New Orleans, Rugby Utah en Seattle Saracens deel van die beoogde liga sal vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.