Springbok Showdown soos ou teesakkie: Flouerig

Duane Vermeulen het met ’n paar stormlopies beïndruk. Foto: Twitter.

Wanneer jy die antoniem vir “vertoonwedstryd” in ’n Afrikaanse woordeboek soek, sou jy waarskynlik vanmiddag se Springbok Showdown-wedstryd op Nuweland gekry het.

Want sjoe, ’n mens het in jou ouerhuis geleer om nooit onnodig krities te wees nie, maar dit was nou vir jou so waaragtig ’n vervelige affêre.

Siya Kolisi se Groen-span het weliswaar vir Lukhanyo Am se Goud-span met 25–9 in Tafelberg se skadu geklop, maar (wéér daardie voegwoordjie) TV-produksiespan sal sukkel om genoeg aksie vir later vanaand se hoogtepunte bymekaar te skraap.

Ja, die spelers is glad nie wedstrydfiks nie en hulle het nie genoeg saam geoefen om sjampanje-rugby te speel nie. Tog het ondersteuners (én sekerlik die afrigters ook) meer van die wedstryd verwag.

Elton Jantjies laat waai met die linkervoet. Foto: Twitter.

Die kragmeting se eerste punte is eers in die 16de minuut aangeteken, toe Elton Jantjies ’n strafskop deur die pale gejaag het.

Die Lions-losskakel het sy sogenaamde tweestryd met die Stormers se Damian Willemse loshande gewen; hoofsaaklik omdat die Kapenaar ’n nagmerrie-wedstryd beleef het.

Die 22-jarige het met ’n rits stelskoppe skeef gekorrel, terwyl hy ook deur Jaco Peyper met ’n geel kaart van die veld gestuur is nadat hy ’n vlieënde Yaw Pinxe teruggehou het. Sy oortreding het ook vir die wedstryd se eerste drie gesorg: ’n Strafdrie van alle dinge.

Kolisi se groenes was die sterkste span op papier en hulle het ook goed in die skrumsituasie vertoon. Die Bok-kaptein het juis vir ’n drie oorgeval nadat sy medevoorspelers ’n rolmaalbeweging van stapel gestuur het.

Dan het Duane Vermeulen en Frans Steyn hier en daar ’n teenstander disnis gestamp, terwyl die jong Kade Wolhuter nogal goed gelyk het in die enkele minute wat hy op die veld was.

Siya Kolisi druk sy drie op Nuweland. Foto: Twitter.

Maar as skouspel was die wedstryd ’n effense flop. En ’n mens kan net jou kop krap wanneer jy dit met die Nieu-Seelanders se Noord/Suid-derby vergelyk.

Toegegee, die Kiwi’s het toe reeds ’n ganse Aotearoa-reeks agter die blad gehad en dit is onregverdig om die twee vertoonwedstryde met mekaar te vergelyk.

Dit is egter duidelik dat daar nog harde werk op die Suid-Afrikaners wag.

Puntemakers:

Groen: Drieë: Strafdrie, Siya Kolisi en Juarno Augustus. Strafskoppe: Elton Jantjies (2). Doelskop: Kade Wolhuter.

Goud: Strafskoppe: Damian Willemse en Curwin Bosch (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Adam Adriaan ·

Wil liewer niks sê nie.”If there is problems in the company check the management”

Die Wolf ·

Sal SA Rugby boikot tot tyd en wyl daar n behoorlike verskoning en verduideliking gegee word oor die besluit van die Cheetas. Ek hoop dat die Borge ook hulle stem dik sal maak, indien hulle genoeg ruggraat het.

MakersMark ·

Paar goeie vertonings van wêreldbeker bokke, die eintlike springbok kaptein Vermeulen, Steyn en Kitshof het goed vertoon. Van die nie beker bokke was Arno Botha goed. Die res hoort nie in groen of goud nie.

JBN ·

Ek stel nie belang in hierdie pot snot nie. As jy hierdie Anc kwotaspanne ondersteun wat gekies word op grond van die Anc se rassistiese kwotabeleid dan moet jy maar vir die Anc ook stem in die volgende verkiesing. As jy hierdie kwotaspanne ondersteun moet jy ophou kerm en kla oor rassisme en diskriminasie.

Mudguard ·

Ek kyk liewer tafeltennis. Ten minste kan jy die kleur van die bal kies.

MakersMark ·

Kwotas bring kleurbewustheid of jy nou daarvan hou of nie.

Andre ·

Die ANC het al die sport in die land walglik verkrag en saam met die kniebuigers sport ‘n goeie skop tussen die bene gegee.Ons stel geensins meer in enige sport in die land belang nie.Niks Zero Nul.Breek maar soos julle wil.

Niklaas ·

Ons kan seker maar die verskoning gebruik, dat die spelers onfiks is, nog onhandig is met bal hantering en spanmaats mekaar nog nie eintlik ken nie. Want dit was soos om ‘n spul skoolseuns dop te hou. As ons 15 met reserwes van hierdie manne laat opdraf teen die Engelse, Iere, Wallabies en veral All Blacks gaan ons’ n vieslike nederlaag ly. Ek dink ons het een groot agterstand en dan is die meeste Bokhelde van Japan wereldbeker oorwinning tans in die buiteland

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.