Springbokbarometer: Die kwik styg net in die Kaap

Daar was in die naweek weer nie veel waaroor die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, opgewonde kon raak nie, maar eweneens is sy Engelse eweknie, Eddie Jones, in tamatiestraat.

Jones het slegs twee maande oor voordat hy die toerspan  vir die reeks van drie toetse in Junie na Suid-Afrika moet kies.

Die Engelse het hul derde opeenvolgende wedstryd verloor toe hulle deur Ierland geklop is, van sy voorkeurkandidate is beseer en ander is die kluts kwyt.

Erasmus sal straks oorsee moet gaan delf om sy spelerspens aan te vul en hy sal na alle waarskynlikheid die beleid van 30 toetse (spelers wat oorsee speel en in aanmerking vir toetsrugby wil kom) moet verander. Die rede? Hy moet twee Bokspanne kies vir die toets op 2 Junie in Washington teen Wallis en die week daarna vir die eerste toets teen Engeland.

Dalk is dit die ideale geleentheid om die Rooibokspan, in hul rooi truie, teen Wallis te laat speel en die Springbokspan teen Engeland.

Dit was weer nie ʼn goeie naweek vir die Suid-Afrikaanse spanne in die Superreeks nie.

Die Stormers was die keur toe hulle die Blues met 37-20 op Nuweland geklop het, dit het broekskeur met die Lions op Ellispark gegaan voordat hulle die Japanse Sunwolves met 40-38 kon klop, die Sharks is in ʼn uiters slordige wedstryd met 24-17 deur die Brumbies in Canberra verslaan en die Bulls is Vrydag met 41-28 deur die Chiefs in Hamilton getroef.

Pluspunte: Die peil van die Stormers se Dillyn Leyds, EW Viljoen, Damian de Allende (het nooit gedink ek sou weer my woorde moet sluk nie), Damian Willemse, Pieter-Steph du Toit  en Steven Kitshoff. Die Lions se Malcolm Marx het op Ellispark uitgetroon en die Bulls se Warrick Gelant, Jesse Kriel, Handré Pollard, Lood de Jager en RG Snyman was op hul koppe. Vir die Sharks was daar opflikkerings in Curwin Bosch en Thomas du Toit se vertonings.

Negatiewe punte: Andries Coetzee se besluitneming, Raymond Rhule se verdediging, André Esterhuizen en Snyman se beserings en die Bulls wat net vir 60 minute inklim voordat hul stoom opraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Daar is veel groter probleme in Suid Afrikaanse rugby as wat dit op die oog af lyk,want die voorste drie spanne, die Lions,Sharks en Stormers is net nie instaat om dieselfde peil
wedstryd na wedstryd te handhaaf nie.

Hulle sukkel om aan te pas en gee enige voorsprong te maklik prys.

rollie ·

Ek is beindruk met Willemse. Hy’s redelik fisiek en glad nie klein nie. ‘n Fris mannetjie vir sy ouderdom. De Allende begin weer die vorm wys wat hom ‘n Bok gemaak het. Kolisi was briljant, maak hom Bok-kaptein.

Henk Brand ·

Willemse is vir my tans die uitstaande losskakel in SA. Sy verdedging is ook beter as die van Du Preez en Pollard. Van Jantjies praat ons nie eers nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.