Springbokhakers: Wie kan kers vashou by Bismarck?

Bismarck du Plessis (Foto: Facebook)

Dit bly een van die groot kopkrappers hoe die destydse Springbokafrigter Jake White die laaste kon lag hoewel hy John Smit bo Bismarck du Plessis as sy voorkeurhaker gekies het. Maar was White nie dalk al die tyd reg nie?

Du Plessis moes in 29 van sy 79 toetse meestal tweede viool  teenoor Smit speel, wat in 111 toetse gespeel het en die Bokke 50 keer in wentoetse gelei het.

White het Smit in2004 as sy kaptein aangewys, nadat hy in 2003 die Bokke teen Georgië onder die afrigterskap van Rudolf Straeuli aangevoer het.

White en Smit het ‘n baie sterk band gevorm en hoewel daar soms gebrom is oor sy spelpeil, kan hy en White tong uitsteek. Watter ander Bok het in 46 agtereenvolgende toetse vir die Bokke gespeel, met oorwinnings in die Wêreldbeker, Rugbykampioenskap en ‘n reeksoorwinning oor die Britse en Ierse Leeus spog? Sulke statistieke lieg mos nie.

Aan die ander kant sê baie kenners onomwonde dat Du Plessis beter was. Du Plessis het in 79 toetse gespeel en 11 drieë tussen 2007 en 2015 gedruk.

Hy is kliphard en vurig. Ja, soms te oorywerig, maar vra maar vir sy teenstanders teen wie hulle nie wou speel nie.

Die ander Bokhaker-gunstelinge was Jan Lotz (1937/’38),maar ongelukkig het die Tweede Wêreldoorlog sy loopbaan kortgeknip.

Dan was daar die balvaardige Abie Malan, die drie ystermanne van die Noorde, Gys Pitzer, Piston van Wyk en Willie Kahts.

Die woelige Naka Drotske en Chris Rossouw sal altyd regmerkies kry, met die omstrede James Dalton nie ver agter in die ry nie.

Saam met hulle moet Uli Schmidt ook uitgesonder word. Net soos sy pa Louis Schmidt en oupa Uli, was Uli (jnr.) van dieselfde gehalte. Superfiks, kliphard, hy kon skrum en têkkel en die bal op ‘n tiekie in die lynstane ingooi. Boonop het hy ‘n systap gehad waaroor baie agterspelers van droom.

Maar dan het Malcolm Marx die afgelope drie jaar ook na vore getree as ‘n wêreldbreker. Dalk kan sy ingooie in die lynstane verbeter, maar jinne, hy is net 25 jaar oud en het skaars sy gelyke.

Rassie Erasmus het ook goud raakgeboor met Bongi Mbonambi in ‘n groep van 23, maar as ek moet kies, troon Plessis, Marx en Schmidt bo die res uit.

Bismarck du Plessis:  79 toetse tussen 2007 en 2015, 11 drieë.

Uli Schmidt:  17 toetse tussen 1986 en 1994, 2 drieë.

Malcom Marx: 33 toetse, 5 drieë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Uli Schmidt die beste, kon met groot spoed hardloop en hanteer soos ‘n senter en dan kon hy voorlangs die pap lekker dik aanmaak en saamgesels met die bestes. Dan Malcolm Marx, John Smit en Bismarck du Plessis. Dalk Smit net na Uli agv sy leierskap, veelsydigheid in die voorry, asook sy robuuste spel wat selfs deur die All Blacks op ‘n keer of wat uitgesonder is.

Frank ·

Hulle het verskillende vaardighede gehad wat hom bo die volgende man laat uitstyg. Baie moeilik om so ‘n vergelyk te tref. Ook verskillende kompetisie, verskillende spanmaats, verskillende reëls, verskillende eras ens ens. Makliker om ‘n vergelyk tussen agterspelers te tref.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.