Springbokke: Brisbane is Bokke se eerste ware toets in 2013

 

Wallabies Springboks liveSaterdag se toets teen die Wallabies is die Springbokke se eerste ware uitdaging van hierdie jaar. Nadat hulle tuis met Italië, Skotland, Samoa en Argentinië afgereken en ’n naelskraapse oorwinning oor die Poemas in Mendoza behaal het, staan ’n gekweste Wallaby voor hulle in Brisbane.

Nie net kom hulle teen ’n span te staan wat graag hul nuwe afrigter sal wil tevrede stel nie, maar ook die Australiese nasie. Die Wallabies het in die drie laaste weke reeds twee keer die onderspit teen die All Blacks gedelf en vroeër ’n reeksnederlaag teen die Britse en Ierse Leeus gely. Dit sal hul despraatheidsvlakke koorsagtig hoog maak. Om als te kroon kon die Bokke nog nooit sedert hertoelating in Brisbane wen nie en hulle het in 2006 0-49 daar teen die Aussies verloor.

Nadat Heyneke Meyer sy span onveranderd in die eerste twee toetse van die Rugbykampioenskap gehou het, het hy vandeesweek ’n paar taktiese skuiwe gemaak. Konserwatisme en ’n fisieke benadering blyk die sleutelkomponente van Meyer se wedstrydplan te wees. Sy strategie is duidelik om hierdie toets bloot te wen – mooi rugby is ’n bysaak.

Daarom het hy die flambojante Willie le Roux na vleuel geskuif en die bestendige en voorspelbare Zane Kirchner op heelagter gekies. Kirchner gaan nie soos Le Roux veel kanse op die aanval waag nie en sal waarskynlik die stewel hard inlê om gebiedsvoordeel te wen. Le Roux en Kirchner is egter nie bekend vir hul sterk verdediging nie en het al heelwat duikblapse gemaak wat tot opposisedrieë gelei het. Die Wallabies se giftige agterlyn sal daarom die spel vinniger en minder los wil maak en hierdie twee teiken. Bryan Habana skuif ook na linkervleuel en indien hy Saterdag ’n drie druk, sal hy Christian Cullen se rekord van 16 drieë in die Drienasies (die voorganger van die Rugbykampioenskap) ewenaar.

Die Aussies is nie juis bekend vir hul robuuste voorspelers nie en dis waarom Meyer ook ’n paar slim veranderinge daar aangebring het. Bismarck du Plessis, ’n veteraan van 50 toetse, vervang Adriaan Strauss op haker en neem ook die onderkapteinskap by hom oor. Du Plessis se speelstyl sal ook waardevoller wees by die afbreekpunte, waar die Wallabylosvoorspelers soos Liam Gill en Michael Hooper die Bokke opdraende sal wil gee. Daarbenewens gaan Flip van der Merwe by Juandré Kruger op slot oorneem met die doel om die pap voorlangs nóg dikker aan te maak.

Die skeidsregter is George Clancey van Ierland en die wedstryd skop om 12:05 (SA tyd) op Supersport1 af.

 

Australië:

15 Israel Folau, 14 Nick Cummins, 13 Adam-Ashley Cooper, 12 Christian Lealiifano, 11 James O’Connor, 10 Quade Cooper, 9 Will Genia, 8 Ben Mowen, 7 Michael Hooper, 6 Scott Fardy, 5 James Horwill (kaptein), 4 Rob Simmons, 3 Sekope Kepu, 2 Stephen Moore, 1 James Slipper

Plaasvervangers: 16 Saia Faingaa, 17 Scott Sio, 18 Ben Alexander, 19 Kane Douglas, 20 Jake Schatz, 21 Nic White, 22 Matt Toomua, 23 Jesse Mogg

Suid-Afrika:

15 Zane Kirchner, 14 Willie le Roux, 13 JJ Engelbrecht 12 Jean de Villiers (kaptein), 11 Bryan Habana, 10 Morné Steyn, 9 Ruan Pienaar, 8 Duane Vermeulen, 7 Willem Alberts, 6 Francois Louw, 5 Flip van der Merwe, 4 Eben Etzebeth, 3 Jannie du Plessis, 2 Bismarck du Plessis, 1 Tendai Mtawarira.

Plaasvervangers: 16 Adriaan Strauss, 17 Gurthrö Steenkamp, 18 Coenie Oosthuizen, 19 Juandré Kruger, 20 Siya Kolisi,, 21 Jano Vermaak, 22 Pat Lambie, 23 Jan Serfontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.